Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dis aanmatigend

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Etienne Nolte van Weenen skryf:

Dit is met groot ontsteltenis en ’n mate van onrustigheid, maar ook ironie dat ek kennis neem van die moderatuur se jongste verklaring in verband met die 11 lidmate se aansoek by die Hooggeregshof om die kerk se 2016-besluit ongeldig te laat verklaar.

Sonder om in debat te gaan oor die meriete van die gay-standpunt, vind ek dit aanmatigend en arrogant van die moderatuur om nou, ná die hele debakel in verband met die gay kwessie, te verwag dat die sake op ’n “kerklike” manier buite die hof geskik moet word. Indien ek in die skoene van die 11 lidmate gestaan het, sou ek uiteindelik presies dieselfde pad geloop het.

Die eenvoudige rede hiervoor is dat soos met die stemming vir Belhar, daar weereens ’n ondeursigtige proses met ’n gebrek aan integriteit gevolg is.

Wanneer Belhar ter sprake kom, gaan dit ook nie oor die meriete van die beginsel nie, maar oor die proses en die gebrekkige en dualistiese leierskap wat die kerk in die prosesse geopenbaar het.

Ek is eintlik jammer om dit op hierdie manier te stel, maar die hele gebeure by die 2015- en 2016-sinode herinner my aan soortgelyke ondeursigtige, gemanipuleerde prosesse en gebeure wat op ’n sekulêre en politieke vlak plaasvind. Hiervan verneem ons daagliks in die media. Die enigste verskil is dat die kerk dit doen in die naam van die God, van wie Psalm 89 en 97 sê: “Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon.”

Kan die moderatuur werklik van hierdie 11 gemeentelede verwag om hulleself nogmaals bloot te stel aan ’n volgende sinode waar gravamina, beswaarskrifte en/of beskrywingspunte vanaf kerklike vergaderings op die agenda van die vergadering geplaas word. Dít terwyl die vorige vergaderings duidelik uitgewys het dat die kerk nie in staat is om sy eie regsprosesse korrek te vertolk of ter sake regsadvies in ag te neem nie.

Terselfdertyd is die moontlikheid daar dat ons weereens getuies sal wees van vergaderings  waar besluite emosioneel gemanipuleer word,  terwyl inligting wat genotuleer is van die vergaderings weerhou word. Dit is natuurlik net die punt van die ysberg.

Ter afsluiting moet dit seker die kerklike vergissing van ons huidige eeu wees, dat ’n sinode wat byeengeroep word op grond van sekere appèlle, ewe skielik sy status verander om bekend te staan as ’n sinode wat sekere gravamina, beskrywingspunte en voorleggings  bespreek. Hierdie tegniese “mispoging” om die werklike saak te systap, strook nie met ons getuienis dat ons as kinders van die lig in hierdie wêreld moet leef nie.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top