Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Woord van dank aan ‘dankie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Stefan Malan van Empangeni skryf:

Ek sit nou die dag weer en dink oor ons woord “dankie”. Ek het hom al meermale beskryf as heeltemal te kromskouertjies om alles te kan saamdra wat ons dikwels op sy rug wil laai. Ons beskryf, herroep, projekteer soveel gebeurtenisse, ervarings, verhoudings en die impak wat hulle op ons maak met hierdie enkele Afrikaanse woord. En as ons nou regtig tot oorlopens toe vol is van dankbaarheid, dan haak ons dalk ’n helper vooraan om te help sleep: “Baie dankie!” of “Vreeslik dankie!”

Ons doen dieselfde wanneer ons ons dankbaarheid teenoor die belewenisse van God se seën, beskerming, oorvloed en goedheid wil verwoord. Ons span nogeens die goeie, getroue dienskneg “dankie” in om ons innerlike gevoelswêreld te karwei. En dit is ook reg so! Dis wat ons het. Dit stel ons in staat om ons fokus te skuif na wat goed en mooi is. As ons dankie sê, hou ons immers op met mor en kla. Dan is ons nie besig om op die negatiewe dinge in ons lewe, ons wêreld, te fokus nie. Verdwyn die fronse en verwyte uit ons gelaatstrekke. En skielik – terwyl ons die woordjie oor ons tonge laat rol – swaai ’n deur oop na ’n nuwe wêreld. 

Klein vanselfsprekendhede doem voor ons geestesoog op en ons word bewus van ander, soms versteekte skatte van God se betrokkenheid en hoe Hy ons bederf deur mense, goeters en sy skepping. En voor jy jou weer kom kry is die sterkte van die Rand, die betogings en politieke retoriek van die dag, jou bankrekening se wankelrige bene, en jou gesondheid nie meer die enigste horison op jou uitkyk nie. Ja, daar vang ook ander skakerings van lig jou oog. Jy sien ook ander wolkformasies as net die onheilspellende donker wolke wat daar wel is. Geure van lewe, spatsels goedheid en borrels lewensvreugde word deel van jou gewaarwording. Ja, so werk “dankie” nou maar eenmaal. Soos ’n sleutel na nuwe landskappe van God-met-ons. 

So, dalk is dit net reg om hom te salueer – hierdie nederige werkesel. En watter beter manier as dalk juis so: “Dankie!” Dankie vir jou bereidwilligheid om soveel op jou te neem, waarmee ek God se naam hemelhoog wil prys! Dankie dat jy my neem na nuwe wêrelde waar ek nuwe dimensies van God se omgee en liefde kan ontdek. Nogmaals dankie!

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top