Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Baie dankie, Bianca

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Martin Heyns van Stilbaai skryf:

Baie dankie vir Bianca Botha se artikel (Kerkbode, 4 Mei) oor oop gemeentes vir almal en die sleg wat sy ervaar oor hoe homogeen “wit” die NG Kerk nog eintlik oral is – veral in die platteland. Al predik die sogenaamde kerkleiers ’n oop “kerk” vir almal.  Bianca skryf tog maar net oor ’n korrekte kerkbegrip wat sy ongelukkig nie in die praktyk ervaar nie.

Ter bemoediging: Julle jong stemme word darem al in die Kerkbode gepubliseer. In die middel tagtigs van die vorige eeu het ek persoonlik ervaar hoe die Kerkbode se redakteur ’n soortgelyke brief wat ek persoonlik by sy kantoor gaan afgee het, voor my opskeur.

Dertien van ons ouens het dié ope brief aan die NG Kerk geskryf. Dit het later darem 123 ouens geword. 

Daardie dae was opmerkings soos dié van Bianca Botha doodgewoon as kommunisties afgemaak en het die veiligheidspolisie jou telefoon getap as hulle net vermoed het jy praat teen die NG Kerk en die regering wat toe intieme bedmaatjies was. Ek bespiegel nie. Dit het persoonlik met my gebeur.

Ek het bietjie later by ’n algemene sinodale vergadering my nood oor presies dieselfde ding by oorlede prof Willie Jonker bekla. Hy het vir my gesê: “Boet, moenie haastig wees nie. Ek spook nou al 28 jaar oor die besigheid. Jy kan ook nog maar wag.” Nou ja, ek wag nou al saam met hom amper 60 jaar en dit lyk nog maar eintlik soos altyd al is die praatjies darem beter.

So, skep moed. Ek sien in ’n skrywe van die sinodale leiers, Wes-Kaap, gemeentes moet vir die eerskomende sinodale vergadering weer onder meer vir dié soort gesprekke voorberei. Ai, na 60 jaar het ek nie veel moed nie. Jammer oom Willie! Die DNS van die NG Kerk is eenvoudig oor eeue heen te vrot van “apartheid” – so in hulle in-gepreek!

Maar Bianca moenie ophou hoop nie – as prof Willie so gesê het moet ek hom dit bly agterna sê. Baie, baie dankie vir julle soort jong stemme! Ek kan nie vir jou in woorde vertel hoe goed dit my hart doen nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top