Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die volle spektrum van Bybelse getuienis

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die “koninkryk van God” is ’n belangrike tema in die missionale diskoers in die NG Kerk. Die missionale dimensie van kerkwees word egter dikwels aangebied asof dit die enigste kenmerk van “ware” kerkwees behels.

Uit die aard van die saak is die kerk se sending ’n belangrike aspek van kerkwees. Gemeentes is onder meer gestuurde gemeenskappe en gelowiges is onder meer geroepenes en gestuurdes. Dit is egter te betwyfel of gestuur wees die volle wese van die kerk en geloofslewe omvat. 

In die Ou Testament se na-ballingskaptekste val die klem baie sterk daarop dat die nasies na die volk van die Here toe kom. Die volk van die Here gaan nie na die nasies toe nie. Die geloofsgemeenskap is hier nie gestuurdes nie, maar draers van God se lig op God se berg, op Sion (Jerusalem). Die nasies kom na waar die volk van die Here is om God se wil daar te kom leer (vergelyk Jes 60 en Sag 8:20-23). 

Deur God se daad van bevryding is al die inwoners van God se stad nou regverdiges. Hulle leef geregtigheid uit daar waar hulle “geplant” is. So vermeerder “die roem van die Here” (Jes 60:21). In hierdie vers val die klem baie sterk op wat die Here doen en nie op die volk wat gestuur word nie.

’n Oordrewe klem op stuur kan maklik daartoe lei dat ons vergeet dit is God wat handel. Die bevestiging van God se heerskappy, sy koninkryk, hang nie af van hoe missionaal die kerk is nie – “hulle is die loot wat Ek self daar geplant het, die werk van my hande …”

Jesaja 2:3 stel dit waarskynlik die duidelikste: “Baie volke sal daarnatoe gaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.” God word ook geopenbaar waar sy volk byeen is, nie net wanneer hulle gestuur word nie.

Soortgelyke tekste sou vermenigvuldig kon word. Die punt is, ons moenie in ons entoesiastiese omhelsing van ’n populêre tendens, kerkwees reduseer tot een dimensie nie. Alles in die Bybel is nie missionaal nie en daarom durf ons nie alles in die kerk buig tot dit missionaal is nie.

Kom ons bly ook in dié verband die diverse getuienis in die Bybel omhels. 

Dr Fanie Cronjé is leraar van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top