Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Taal maak vandag steeds saak

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Engels! Engels! Alles Engels! Engels
wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke, word ons
moedertaal fermoor.
ag hoe word ons folk verbaster, daartoe
werk ons leraars saam.”

Hierdie moedelose uitroep van CP Hoogenhout verwoord iets van die taalstryd wat in die laat 19e eeu in die NG Kerk geheers het. Alhoewel die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 12 Augustus 1875 as die amptelike geboortedag van Afrikaans beskou word, het dit lank voor die datum reeds as algemene spreektaal in die Kaap en op die trekpad gefunksioneer. In Transvaal sou dit uiteindelik tot Standaard-Afrikaans ontwikkel.

Hierdie ontwikkeling was egter nie sonder stamp of stoot nie. Engelse eredienste was ten tyde van die stigting van die GRA hoogmode in die Kaap terwyl die behoefte aan soortgelyke dienste ook op die platteland groter geword het. Pleitstemme vir Engelse dienste het veral opgegaan omdat “die jeug die stywe Hollandse preke nie verstaan het nie”.

Tydens die Sinode van 1862 is ’n beskrywingspunt goedgekeur wat bepaal het dat waar daar minstens 50 lede van ’n gemeente om Engelse dienste vra, dit nie van die hand gewys kon word nie. Selfs in die Vrystaat is daar teen 1879 in Heilbron een keer per maand ’n Engelse diens gehou terwyl Engelse aanddienste ook in Bloemfontein vanaf 1882 plaasgevind het. 

Die stryd was egter nie net tussen Engels en Afrikaans  nie. Op 4 September 1927 het 590 lidmate van die NG gemeente Graaff-Reinet bedank as gevolg van ds JF Naude se gebruik van die “Hotnotstaal” op die kansel. Dit het gebeur ten spyte van die feit dat  die
NG Kerk Afrikaans in die Vrystaat en Transvaal in 1916 en die Kaap in 1919, as kanseltaal goedgekeur het. Oral in die NG Kerk was daar steeds lidmate wat Nederlands as kanseltaal verkies het.

Hierdie deel van die geskiedenis van die NGK bevestig een groot feit: Taal maak saak. Dit het nog altyd saak gemaak en dit maak vandag steeds saak. Dit bring die NG Kerk in ’n multi-kulturele samelewing voor ’n enorme uitdaging.

As die NG Kerk daarin wil slaag om ’n missionale kerk in Suid-Afrika te wees, sal sekere opofferings ten opsigte van taal gemaak moet word. Afrikaans is vir die grootste deel van die land se bevolking die taal van apartheid. Missionale gemeentes sal daarom die groot treë moet gee om Engels as ’n bedieningstaal te omarm. Slegs dan sal die NG Kerk sy regmatige plek in die Suid-Afrikaanse samelewing kan inneem en sal daar vordering kom op die pad van missionale kerkwees.

  Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top