Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Is dit al wat die NG Kerk sê?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Johannes Mouton van Table View skryf:

Met die lees van die berig, “Dis onnodig om die grond­wet te wysig – NG Kerk” (e-kerkbode, 15 Junie 2018), was ek aan die een kant dankbaar dat die kerk op hierdie manier ’n bydrae wil lewer tot die debat oor grondhervorming. Maar aan die ander kant was ek ook te­leurgesteld. Ek kon nie help om te wonder of dit regtig al is wat die NG Kerk daaroor wil sê nie?

Hoekom sê ek so? As ek die Bybel lees, sien ek dat God alle ongeregtigheid haat en vra dat daar na die verontregtes omgesien word. Dit word weerspieël in Jesus se ongemaklike solidariteit met die armes, ver­sto­tenes en uitgeworpenes. Ons sien hoe Hy in die belang van die prostitute, die tollenaars, die sondaars en siekes opgetree het; hoe hy altyd die status quo en die belange van bevoorregting uitgedaag het.

In die lig hiervan lyk die voorlegging van die NG Kerk oor grondhervorming darem baie soos die be­sker­ming van die status quo, gevestigde belange en bevoorregting. Trouens, dit stem baie ooreen met die voorleggings van sekere Afrikaner-organisasies, bv AfriForum.

Daarmee sê ek nie dat die Grondwet gewysig moet word en dat besittingsreg en kompensasie noodwendig afgeskaf moet word nie, maar is dit al wat ons daaroor behoort te sê? Behoort die belange van die verontregtes, die landloses en die verstotenes nie die eerste prioriteit van die kerk te wees nie?

Behoort ons nie ook ernstig na te dink oor wat ons behoort te doen met al die eiendom wat gemeentes besit nie? Hier dink ek aan geboue wat die meeste van die tyd leeg staan terwyl ons broers en susters op baie plekke in moeilike omstandighede kerkhou. Ek dink aan pastorieë wat verhuur word, kerkgrond wat selfs vir boerdery gebruik word, lidmate wie se werkers in haglike omstandighede woon.

Behoort ons nie minder bekommerd te wees oor dit wat ons besit en méér bekommerd te wees oor hulle wat niks besit nie? As dit so is dat God ongeregtigheid haat, is ons dan besig met die regte vrae?

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top