Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Fanie Buys van Sasolburg skryf:
Ek verwys na ds Fay van Eeden se poging om ses weke sonder plastiek te leef, wat sy moeilik gevind het. Dit sal vanselfsprekend so wees, want haar uitgangspunt het die kern van die probleem gemis. Ons samelewing het so verander dat ’n mens nie meer sonder plastiek kan lewe nie, want plastiek het baie voordele gebring wat nie tevore daar was of ontken kan word nie.
Die regte vrae is eerder om eerstens te kyk na watter tipe plastiek gebruik jy en tweedens, maak jyself seker dat die plastiek (en ook blikkies, glas, papier, ens) wat jy gebruik, korrek gehersirkuleer word? Deesdae moet hersirkulering so deel van ’n mens se lewe wees, soos om jouself af te vee as jy klaar is in die toilet!
Ons moet ook oplet dat die ouer generasies dikwels baie groener geleef het as wat ons leef.
My pa en sy broer moes beurte maak om die koei te melk. Toe ek daardie ouderdom bereik het, is melk en vrugtesap in glasbottels by die huis afgelewer. Die melkery het die leë bottel teruggeneem vir hergebruik.
Hoe lyk dit vandag? Eerstens mag ek nie ’n koei aanhou nie en daar is nie ’n melkery wat aflewer nie. As daar nie ’n melkwinkel naby jou is waarheen jy jou eie houer neem nie, kom jou melk in ’n karton, plastieksakkie of plastiekbottel. Dit word nou jou verantwoordelikheid en dit geld vir elke ander tipe verpakkingsmateriaal wat deel van jou lewe word. In kort, in vorige generasies het verpakkingsmateriaal ’n langer gebruikstyd gehad.
Daar moet onderskei word tussen plastiek (of verpakkingsmateriaal) wat maklik gehersirkuleer word en die tipes waarop dit nie van toepassing is nie.
Die tipe plastiek waarin vleis, kaas, melk, koeldrank en dies meer kom, kan baie maklik gehersikuleer word. Die tipes plastiek waaroor ons eerder bekommerd moet raak, is die koppies (pods) van Nespresso-masjiene en skeermesse. Ons moet ook weer dink oor die tendens waar amper niks meer reggemaak word nie. Dit is mos kwansuis goedkoper om ’n nuwe ding te koop.
Kom ons vra eerder, hoe betrokke is ons en ons gemeentes by hersirkulering? Is daar ’n hersikuleringstasie by die kerkkompleks, of hoekom nie? Of is ons ook gelukkig daarmee dat ’n persoon plastiek in ’n “bulk bag” bymekaar maak wat 20+ kilometer loop om dit teen beswaarlik R2,00/kg te verkoop?
Hoe sterk dryf ons pogings om lewensvatbare hersirkuleringsisteme in plek te kry?
Die algemene tendens in Suid-Afrika is nog steeds dat ’n mens alles in ’n sak wil gooi en dan dit die munisipaliteit se probleem maak. Dít is wat moet verander.
