Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ek het gedink dis ’n program

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Arnold Nadel van Bellville skryf:

Die afgelope tyd het daar verskillende berigte en brie­we verskyn oor missionale kerkwees.

Skrywers dwarsoor die teologiese spektrum is dit eens dat die kerk missionaal is omdat die kerk die gevolg is van die Triniteit se handelinge in die skepping. En die kerk het ontstaan as gevolg van Christus wat twaalf dissipels gekies het, geleer het en uitgestuur het om die boodskap van God aan verlore mense te gaan verkondig en om dissipels te maak.

Die stuur-gedagte kom juis uit die handelinge van die Triniteit met die mens. Die liefdevolle Triniteit skep die skepping en stuur sy liefde in die mens om Hom te verteenwoordig op die aarde. Die mens faal jammerlik in sy opdrag, maar God bly sy liefde stuur in alle regverdigheid, omdat die Triniteit liefde is en in liefde handel.

Ek self het gedink dat dit maar net ’n nuwe program is wat besig was om die kerk binne te dring. Maar hoe meer ek myself daarin ingrawe, hoe meer besef ek hoe ver weg die Westerse kerk beweeg het van die kerk waarvan ons lees in die Bybel. Daarby het die Westerse kultuur en kommersialisasie hiertoe bygedra en baie kerke en lidmate verstaan dit nie.

Missionale gemeentes se kern gaan oor die Triniteit en die verhouding onderling in die Triniteit wat as voorbeeld vir die kerk dien.

Binne die Triniteit gaan dit oor liefde en dit vergestalt in die stuur van Christus en daarna die Heilige Gees om die mens te roep as dissipels. En dissipelskap beteken die ommekeer wat in mense se lewe gebeur. Deur ’n intensiewe verhouding met God en mededissipels word mense nou God se dissipels.

Hierdie dissipels word toegerus met die gawes van die Gees om die wêreld te gaan verander deur ’n le­wenswyse wat getuig van die vrug van die Gees. Mense word nie geroep om predikant of onderwyser of iets te wees nie. Christus roep die mens deur die Gees as dissipel en gee dan die gawe(s) van die Gees aan die mens om diensbaar te wees. Hierdie gawe mag dan predikant, onderwyser of dokter wees om so die koninkryk te help bou.

Missionaliteit bring die kerk/mens voor die keuse om in ’n lewenslange transformerende verhouding met God te staan saam met ’n mededissipel waarin daar elke oomblik gebou word aan ’n ‘Christlikeness’-beeld. Saam hiermee staan elkeen in verdere dissipel­skapverhoudings.

Missionaliteit vra nuwe verhoudings, nuwe rolle vir predikante en lidmate, nuwe denke oor wie God is, nuwe liturgieë, nuwe kerkwees, en bowenal om gehoorsame dissipels te wees. En soos vele dit al sê: Die kerk gaan nie oorleef as dissipelskap nie die boustene word van die missionale kerk nie. En dit is die missionale kerk se uitdaging, en so ook vir die NG Kerk.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top