Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jesus steek die grense oor

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

As ’n mens die evangelies lees, word daar kort-kort ’n plek se naam genoem. Jesus reis na allerhande plekke. Gaan kyk net ’n bietjie na ’n kaart: Ons vind Jesus in klein dorpies soos Nasaret, in groot dorpe soos Kapernaum en die hoofstad Jerusalem. Ons vind Hom ook in dorpe buite die grense van Joodse gebied – in dorpe soos Sesarea-Filippi, Tirus en Sidon, Betsaida en Gadara.

Net in hierdie lys name is daar reeds ’n sterk teologiese boodskap: God het nie net die Jode in die oog nie, maar die wêreld. Toe Jesus uiteindelik die apostels uitstuur met die opdrag om sy getuies te wees in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld, het hulle geweet om Hom ernstig te neem. Hulle het Hom dit immers self sien doen.

Hulle het verder gesien dat om Jesus te volg, vat jou ook oor ander soort grense: die onsigbare grense soos dié van klas, taal, volk, ras en geslag. Daarom was dit van meet af aan deel van die lewe van Christene om ook oor hierdie soort grense te gaan. Dikwels is hierdie onsigbare grense tussen mense en groepe sterker as landsgrense.

Gemeentes wat hulle roeping as gestuurdes ernstig opneem, neem Jesus se manier van doen ernstig op. Leiers wat Jesus volg, weet dat Hy ons oor grense lei na plekke en mense waar ons nie vanself sou kom nie. Een van die uitstaande gewoontes van gestuurde gemeentes is om oor grense te gaan.

In Suider-Afrika is ons bevoorreg dat die grense meestal sommer naby ons lê. Jy hoef nie ver te reis om by mense te kom wat anders is as jy nie. ’n Mens moet jou dit ook afvra: Watter geloofwaardigheid is daarin om halfpad om die wêreld te reis as jy nie eens oor die grense in jou eie omgewing gaan nie?

Dit is ook belangrik om hieraan te dink as ’n “gewoonte”. Gestuurde mense en gestuurde gemeentes het die gewoonte om oor grense te gaan. Hulle doen dit gereeld georganiseerd maar ook as ’n dag-tot-dag gewoonte waar hulle met mense te doen kry wat anders is as hulleself. Die krag van die vroeë kerk se getuienis het daarin gelê dat die gewone mense, in hulle eie dorpe, as ’n gewoonte, oor grense gegaan het met God se liefde. Dit is ook vandag die krag van gemeentes wat erns maak met hulle identiteit as gestuur­des.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top