Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Volg my voorbeeld’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.”

Hierdie is nie woorde wat mens ligtelik sê nie. Dit voel amper arrogant. Tog is hierdie beginsel onverhandelbaar vir enige geestelike leierskap en nog meer so as ons praat oor leierskap wat ’n gemeente terugneem na sy gestuurde roeping.

Die voorbeeld van die dominee en die ander leiers trek die gemeente vorentoe. Sonder leiers wat die
koers aandui en die pas aangee, sak die meeste mense terug in ’n gemaksone waar dit primêr gaan oor hulle eie geestelike belewenis, hulle eie geestelike groei en hulle eie behoeftes. Nie dat hierdie dinge onbelangrik is nie, maar ons verstaan tog al duideliker dat dit nie ’n doel insigself is nie. Dit vorm die basis vanwaar gemeentelede na die wêreld beweeg.

Daarom is ’n gemeente se leierskap ook nie bedoel om ’n demokrasie te wees nie. In ’n demokrasie gaan dit oor die stem van die volk, en die volk soek gewoonlik hulle eie voordeel. Gestuurde leiers, daarenteen, neem mense saam op die pad wat Jesus vir ons aandui. En dit is nie ’n pad waar eie gerief en voordeel eerste kom nie.

Wanneer Paulus die gemeente in Korinte oproep om sy voorbeeld te volg soos hy die voorbeeld van Christus volg, gaan dit nie vir hom oor abstrakte moraliteit nie, maar oor ’n leefstyl wat daarop gerig is dat ander mense gered kan word. Hy sê: “Maak soos ek: Ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word. Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.”

Ons weet dat die voorbeeld van die leiers, en veral die predikant, deurslaggewend is om ’n gemeente te begelei van ’n selfgerigte na ’n gestuurde gemeente. Men­se kan eenvoudig baie beter sien as wat hulle kan hoor. Lidmate weet dat die gestuurde roeping werklik hulle gemeente se erns is as hulle sien die leiers leef dit uit.

Om Jesus se voorbeeld te volg, gaan oor ’n hele klomp dinge. Die goue draad wat egter deur alles loop, is sy besorgdheid oor mense en om mense te red. Daarvoor gee Hy sy goddelike voorregte prys, Hy word ’n mens, Hy neem die gestalte van ’n slaaf aan en gee uiteindelik sy lewe.

Sulke selfprysgawe is nie iets wat natuurlik vir mense kom nie. Voor ’n gemeente dit sal begin doen, moet hulle dit sien gebeur in die lewe van diegene wat voorloop.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top