Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Moderatuur reageer op hofsaak

Die moderatuur van die algemene sinode het die volgende verklaring uitgereik oor die hofsaak oor die NG Kerk se besluite oor verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag.


Die hofsaak van 11 Lidmate teen die NG Kerk het op 21 Augustus in die Pretoriase Hoë Hof plaasgevind. Die lidmate se aansoek om die tersydestelling van die Algemene Sinode se 2016-besluit oor die huwelik en selfdegeslagverhoudings het voor ‘n volbank van drie regters gedien. Adv Jeremy Gauntlett SC het namens die aansoekers opgetree en adv Schalk Burger SC namens die kerk.

Die aansoek het berus op besware teen die kerkordelike prosedure wat tydens die 2016-Algemene Sinode gevolg is, asook die grondwetlikheid van die besluit om nie persone in selfdegeslag verhoudings tot die amp van leraar toe te laat nie. Verder het hulle ook aangevoer dat die NG Kerk leraars moet toelaat om burgerlike verbintenisse te bevestig.

Die Moderatuur wil graag die volgende onder al ons lidmate se aandag bring naamlik dat:

  • dit waarskynlik ‘n geruime tyd gaan neem voordat uitspraak oor die aansoek gelewer gaan word;
  • die kerk steeds meen dat dit jammer is dat die aansoekers die saak na die hof geneem het en nie al die kerklike opsies benut het om hulle oortuigings binne die kerk te bevorder nie;
  • die kerk, ondanks sy oortuiging dat kerklike sake op kerklike maniere besleg moet word, vertroue het in die oordeel van die hof om in sy uitspraak oor hierdie aansoek die regte van geloofsgemeenskappe en individue in balans te hou.
  • die kerk nie, soos sommige beweer, ‘n homofobiese (gay onvriendelike) gemeenskap is nie. Daar is ‘n beduidende aantal gay-gelowiges aktief in die kerk, waarvan baie in die besondere ampte dien, wat getuig van die liefde, respek en aanvaarding wat hulle binne hulle gemeentes geniet;
  • die kerk ernstig is oor die Bybel as die Woord van God en daarom die huwelik tussen man en vrou as ‘n Godgegewe instelling beskou en altyd die integriteit daarvan wil beskerm;
  • die Buitengewone Algemene Sinode van 2016 die realiteit erken het “dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou”;
  • die kerk met die hantering van hierdie aangeleentheid nuut leer hoe om met ‘n diversiteit van sterk teenoorstaande standpunte in eie geledere saam te leef (1 Kor 8);
  • ons vertrou dat die kerk in hierdie tyd van aanvegting, uitdaging en ontwrigting meer geïnspireerd as ooit getrou sal wees aan ons onvervreembare roeping om die Goeie Boodskap van God se liefde en trou onbevange te verkondig.

In Christus
Moderatuur van die Algemene Sinode

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top