Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ope brief aan Nelis

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Johan van den Heever van Rondebosch skryf ‘n ope brief aan ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode.


Beste Nelis

Ek skryf die ope brief aan jou as moderator van ons kerk. Ek het ‘n vorige keer (2016) aan die assessor persoonlik ‘n e-pos gestuur, maar wag steeds vir reaksie van sy kant af. Dit gaan uiteraard oor die hofgeding van verlede week tussen die NG Kerk en die twaalf lidmate oor die Algemene Sinode se besluit aangaande die gay-kwessie en veral jou onderhoud na die tyd op RSG. Ek besef jy is onder geweldige druk, dit is egter die werklikheid van leierskap.

Dit bring my by leierskap in ‘n missionale kerk. Ek het Donderdagaand, 23 Augustus, tydens die JA Heyns-gedenklesing skielik tot die besef gekom dat daar in ons kerk baie oor ons missionale roeping geskryf en gepraat is. Helaas, dit is alles net woorde. Dit was ingrypend om weer vir prof Heyns, in die dokumenter Dr JA Heyns Exorcist of Apartheid, te hoor praat en hoe uitgesproke hy was oor die onreg van apartheid. Dit was aan die Nagmaalstafel dat hy met die onreg van apartheid gekonfronteer was. ’n Kerk wat ‘n missionale spiritualiteit omarm, het ‘n oop Nagmaalstafel. Die tafel sluit almal in. Daar is nie ruimte vir diskriminasie nie.

‘n Kerk wat ‘n missionale spiritualiteit aanvaar het, weet ook dit gaan nie om die kerk in die eerste plek nie, maar die Koninkryk. Prof Johan Heyns het dit in die tagtigerjare gesnap. In die stryd teen apartheid het prof Heyns geweet die NG Kerk kon weens sy afkeur en verset teen apartheid skeur. Die Koninkryk het egter vir hom swaarder geweeg as ‘n denominasie. Leierskap het beteken dat hy onverskrokke opgestaan het vir dit wat reg was, in geen onduidelike terme nie!

Snap ons ons missionale spiritualiteit? Ons probeer om ten alle koste, selfs teen ons oortuigings in, en Nelis mag ek waag om te sê, teen jou eie oortuigings in, die eenheid van die NG Kerk te bewaar. Ons verhef die kerk bo die Koninkryk. Die Koninkryk behoort altyd meer te wees as die (NG) Kerk. ‘n Missionale kerk het ‘n koninkryksperspektief.

Daarom roep ek julle/jou op, indien julle ernstig is oor ons missionale spiritualiteit, neem julle leierskap op en staan op vir die regte van ons gay-lidmate. Doen die regte ding ter wille van die Koninkryk. Prof Heyns sal onthou word vir sy vreeslose leierskap in die mees uitdagende tyd van ons kerk se geskiedenis. Leierskap is waagmoed, doen nou die regte ding. Jy mag dalk verbaas wees oor die steun wat jy sal ontvang.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top