JESUS CHRISTUS, SEUN VAN GOD, ÍS ONS VERSOENING: ’N MISSIONÊRE CHRISTOLOGIE
Deur Pieter Verster
Uitgewer: SUN MeDIA
Resensie deur Danie Mouton
Die bevatlike Afrikaans waarin Pieter Verster die navorsingsresultate van sy ondersoek na ’n missionêre Christologie neerpen, maak hierdie omvattende publikasie toeganklik vir ’n wyer gehoor. Nie net vakkundiges nie, maar ook predikante en lidmate wat dieper wil delf, kan dit gerus lees.
Verster fokus op die unieke betekenis van Jesus Christus as Seun van God en van sy menswording vir die sending in die wêreld. Die bron van ons Christologie is die Skrif waarin God Godself openbaar.
Die transendensie van God, wat in Christus omvattende heil bring, is vir hom deurslaggewend. Sonder die transendente Seun van God is die boodskap leeg. Die Seun van God bewerk vir ons versoening, sodat ons verhouding met God herstel kan word.
Hy ontwikkel perspektiewe op die omvang van die heil met verwysing na Christus se ampte van koning, profeet en priester.
Hoewel die heil in Christus omvattend is en die hele lewe raak, is ons hoop op Christus vir méér as net hierdie wêreld. Ons verwag ook die hemel na die dood, sê hy, sonder om verder met Skrifgetuienis oor ’n nuwe aarde te werk.
Verster bly deurentyd in gesprek met moderne en post-moderne denkers en maak veel van resente denkontwikkelinge.
’n Groot winspunt is juis die ensiklopediese aard van die publikasie. ’n Enorme hoeveelheid skrywers, insette en gesprekke kom aan die bod. ’n Mens kan oor ’n wye front op die hoogte van die gesprek oor evangelisasie en sending kom net deur hierdie boek te lees.
Verster bly georiënteer aan die Skrifgetuienis oor sending en staan groot dele van die publikasie hieraan af. Hy wil ook getrou bly aan die reformatoriese belydenistradisie.
Hy is krities oor wat hy sien as bewegings wat “die sending” intrek in die gemeente en sending dan “vervlugtig” as ’n gesindheid wat onder mense bestaan. Sending is meer as ’n gesindheid of ’n “bestaanswyse” en sendelinge is steeds nodig om die evangelie te verkondig. Verkondiging is onvervangbaar.
Verster wys tereg op die gevaar dat ons in ’n era leef waarin woorde onbelangrik geword het en net dade of gesindhede tel. Nogtans is dit jammer dat hy nie ’n sterker perspektief op die Christusgemeente as getuie ontwikkel nie.
▶ Ds Danie Mouton is die Direkteur: Begeleiding van die Sinode van Oos-Kaapland.
