Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wanneer jou geleefde belewenis van ’n situasie afgewater, geïgnoreer of selfs ontken word, kan dit as “gaslighting” bestempel word.

Jesus is uit die kas

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Louis van der Riet van Stellenbosch skryf:

Ek lees op die oomblik ‘n boek wat my herinner dat Jesus uit die kas moes klim, voor ek moes.

Voor gay (verwys na LGBT+) mense ‘n prys moes betaal vir/met hul lywe, moes Jesus. Voor gay mense ander wou wys hoe die vervulling van die wet kan lyk, het Jesus. Voor gay mense hulleself daagliks gekruisig het, was Jesus.

Gelowiges ken van kaste bou. Netjies getimmer uit die hout van mag, beheer en sekuriteit, is ons raamwerke wat ons voorkeure in stand hou. Ons dink ons beskerm Jesus, verdedig die evangelie en bewaar die waarheid. Maar Jesus bly daar, toegesluit, saam met die noodlydende/arme/verontregte in die kas. Solank Jesus daar is, is ons veilig; getrou aan ons sekerheid.

Ek wonder oor hierdie dominees en gelowiges wat meer omgee oor my lyf as ek. Ek vermoed dat die kas wat gereserveer word vir gay mense, opgerig is deur mense wat nie taal het vir hul eie lyflikheid nie. Dis nie hulle skuld nie; ek wens tog hulle wil luister. In ons onvermoë, gebruik ons beperkte Bybelse taal vir die kompleksiteit van seksualiteit, geslag en verhoudings. Is daar nie iets te leer by gay mense oor die waarheid wat hulle beliggaam nie? My liefde is nie ‘n perversie nie.

Om gesonde seksualiteit toe te sluit in ’n kas is nie net kortsigtig en hartseer nie, dit weerhou gelowiges daarvan om ooit met integriteit lief te hê en genade te verkondig deur verhoudings.  As jy konstant jouself moet definieer deur wat jy nie is nie, bly daar bitter min van jouself oor.

Die grootste sonde waarvan gay mense bekeer moet word is die selfverwyt wat op hulle gehoop is in die naam van gehoorsaamheid.

Dit gaan nie hier daaroor om op morele hoë grond te staan of oor reg wees nie. Maar terwyl party se “gewete” in gedrang is, is gay mense se lewens in gedrang. Dis ‘n hangkas, nie ‘n koskas nie.

Ons hoef nie langer te luister na die selfbevrediging van hulle wat kies om te maak soos dié wie Jesus vermaan nie: “Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan” (Matt 23:13b). Almal weet tog eintlik hoe hierdie gaan eindig.

Die kas/graf is leeg.

Jesus het opgestaan/uitgeklim.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top