Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Keusetyd in die NG Kerk

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Marcel Vosloo van Die Strand skryf:

Die Bybel is duidelik daaroor dat die Here die beoefening van homoseksuele dade ten strengste verbied. Waar Israel as Ou Testamentiese volk van God onder heidense nasies inbeweeg het wat wel homoseksuele dade in hul midde toegelaat het, het die Here dit nie toegelaat onder Sy volk nie. Dis ook die geval in die Nuwe Testamentiese kerk, hier word geensins ruimte gelaat vir homoseksuele dade nie.

Die laaste sowat 40 jaar het daar nou ’n menigte stemme begin opgaan wat sê dat ons hierdie Skrifgedeeltes nog altyd verkeerd verstaan het. Daarvolgens is die Here nie gekant teen die beoefening van homoseksuele dade binne ’n vaste verhouding tussen twee homoseksueel-georiënteerde persone nie. Die Here wys in hierdie gedeeltes net promiskue homoseksuele verhoudinge af. Is dit God se Gees wat ons hier lei in die waarheid of is dit die Bose se leuengees wat hier aan die woord kom?

  • Boswell en Scroggs het ’n skamele 40 jaar gelede begin om met “kreatiewe Skrifuitleg” ’n nuwe verstaan van selfdegeslag verhoudinge te gee. Behalwe dat hul onderling verskil het, is hul eksegetiese pogings wyd afgewys.
  • By Levitikus 18:22 en 20:13 word beweer dat homoseksuele dade net afgewys word indien dit deel vorm van kultiese tempelprostitusie. Die eenvoudige vraag sou dan dadelik wees, hoekom word heteroseksuele geslagsdade dan nie ook hier aangespreek nie?
  • Verder word beweer dat in die Ou Testament selfdegeslag geslagsverhoudinge net afgewys word waar persone die norm van gasvryheid oortree het. Natuurlik is daar’n hoë prioriteit op gasvryheid geplaas, maar dit neem niks weg van die feit dat die Here op geen manier selfdegeslag seksuele verkeer onder Sy volk toegelaat het nie.
  • Die verklaring van Romeine 1:26-27 is dat Paulus hier eintlik net die patriargale stelsel wou beskerm. Die feit dat Paulus hier vroue en mans se teennatuurlike seks afwys, daarby ook nog die vrouens se lesbiese gedrag eerste noem, moet tog vir enige persoon duidelik wys dat Paulus nie maar net ’n bepaalde soort homoseksuele gedrag afwys nie.  

Die klem word sterk laat val op God se groot genade en hoe Jesus ruimte gemaak het vir die randfigure van die samelewing. Ja, beide van hierdie stellings is die waarheid, máár hierdie wonderlike waarhede moet nog verder gekwalifiseer word. Dit is so dat Saggeus die tollenaar, Maria Magdelena die prostituut en die owerspelige vrou van Johannes 8 – saam met die ontvangs/aanvaarding van God se liefde en vergiffenis – ook die  rug moes keer op hul vroeëre lewens buite om die wil van God. Daar word ’n halwe evangelie verkondig wanneer die nuwe lewe in Christus nie ook belig word nie.

Daar word doodeenvoudig gesê dat mense met dieselfdegeslag oriëntasie gebore word. Ja, dis “’n gawe van God”. Uit die hoek van die fisiese en geesteswetenskappe kom die boodskap dat “nature and nurture” – ons gene en ons grootword omstandighede – ’n komplekse rol speel in wat ons uiteindelike geslagsgerigtheid as volwassenes sal wees.

Die gesprek rondom selfdegeslagverhoudinge kan nie los gesien word van die oproep dat die NG Kerk ’n ‘ruimhuisbenadering’ moet volg nie. Lidmate en gemeentes sal moet kies watter pad hul meen God se pad is. In Spreuke 10:10a lees ons “Wie sy oë sluit vir die waarheid, veroorsaak smart.” Dis slegs wanneer die Groot Waarheid ons onbevange na die Skrif en die wetenskap sal laat kyk, dat ons mekaar sal vind. Laat dit ons gebed wees tot Sy eer!

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top