Die veelbekroonde en uiters fassinerende natuurprogram 50/50 het in Desember 2017 die aandag op ’n ontstellende verskynsel gevestig. Kragvooorsiening noodsaak ’n netwerk van 100 0000 km hoogspanningsdrade wat soos ’n spinnerak oor die land span. Die gevolg daarvan is dat talle voëls van reeds bedreigde spesies daarin beland en doodgeskok word.
Die vraag wat opduik is: Maak dit saak? Waarom bedreigde spesies soos die renoster teen groot koste aan die lewe hou? Is die menslike behoeftes aan energie, voedsel, water, klere en lewensmiddele nie veel belangriker nie?
Feit is dat mens en natuur lotsverbonde is. So berig die gesaghebbende mediese tydskrif Lancet dat meer mense wêreldwyd sterf weens besoedeling as deur oorloë, tuberkulose, malaria en rookverwante siektes gesamentlik. Die uitwissing van spesies is deel van omgewingsdegradering en tekenend daarvan dat die mens besig is om homself tot die punt van selfvernietiging in ’n hoek vas te verf.
