Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Willem Bakkes skryf uit Australië:
Die LGBTI+-gemeenskap het nie die veroordeling van die kerk nodig nie. Ek is self ’n proponent in die NG Kerk, en omdat ek gay is en ook nie selibaat wil bly nie, is die deure van die bediening effektief vir my toe. Ek droom soms nog dat ek preek, en ek het altyd nog die volgende dag ’n onrustigheid in my omdat ek weet dat die NG Kerk nog nie die stap geneem het om my as ’n volle mens te aanvaar nie, en eintlik kom dit daarop neer dat my roeping ook in gedrang kom.
Inteendeel word ek vergelyk met pedofiele en mense wat bestialiteit beoefen. Dit maak seer, en ek weet eerstehands hoe hierdie tipe van gedagtes my menswees ondergrawe. Eintlik is dit daarop gerig om my verdag te maak, asof ek onbetroubaar en gevaarlik is.
Die eenvoudige waarheid is dat gay liefde 100% anders is omdat dit gegrond is op liefde en wedersydse respek. Verder is dit belangrik om te wys dat wedersydse instemming tussen volwassenes vir enige intimiteit belangrik is, anders is dit teen die liefde.
Hoe iemand teen die liefde kan wees, gaan my verstand te bowe, want God het liefde aan ons bewys wat ons verstand te bowe gaan. Liefde is wat die LGBTI+-gemeenskap nodig het, juis omdat verhoudings wat permanent en romanties van aard so moeilik is om te kry. Baie keer is die verhoudings van korte duur, en gesentreer rondom skadelike “shame”. Om dan weer deur die kerk afgewys te word is skadelik en pastoraal onverantwoordelik (liefdeloos).
Baie gay mense met wie ek te doen het, verklaar trots dat hulle die kerk afgesterf het. Maar agter al die bravade kom ek agter dat dit eintlik andersom is, die Kerk het daarin geslaag om hulle so seer te maak dat hulle in teenreaksie om hulle self te beskerm die kerk die rug toekeer.
Ek skaar my heelhartig by die “Seisoen van Menswaardigheid” en hoop dat dit die gesprekke rondom verhoudings in die regte gees sal laat geskied.
Ek is tans in Australië en spesifiek by die Uniting Church betrokke. Hier is daar baie vordering gemaak rakende LGBTI-verhoudings. Predikante van enige oriëntasie kan beroep word en selfs LGBTI-huwelike bevestig. Die kerk is waarlik op hierdie punt, maar dit het nie sonder opoffering gekom nie. Daar is gemeentes waar beswaardes gewoon weggebreek het en hulle eie ding gaan doen het.
