Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Dr Beyers Naudé (links) en prof Johan Heyns.

Heyns en Naudé – binne of buite die mure?


In die kerklike stryd teen apartheid was daar verskillende benaderinge. DR FRITS GAUM kyk terug na twee verskillende opsies aan die hand van twee van die sleutelpersone in dié veelbewoë stuk geskiedenis.


Op Johan Heyns se begrafnis in die veelbewoë 1994, het die destydse moderator, Freek Swanepoel, na Heyns verwys as “’n profeet wat binne die mure van die NG Kerk vir geregtigheid gewerk het.” Beyers Naudé (wat ook die begrafnis bygewoon het) was ’n profeet “buite die mure”. 

Heyns sou vanjaar 90 gewees het, Naudé 103. Die steeds onopgeloste sluipmoord op Heyns word soms verbind aan ’n regse sameswering om van hom ontslae te raak. Hy het in die tyd dat hy moderator van die Algemene Sinode was, meermale dreigoproepe gekry.

Naudé, ook in ’n stadium moderator van ’n NG streeksinode, het weens sy afwysing van die kerklike beleid van apartheid, die NG Kerk verlaat en “buite die mure” aan die struggle deelgeneem en was sewe jaar lank in huisarres.  

Heyns het gekies om binne die kerk ’n deurslag­gewende rol te speel. Hy was ’n teoloog van formaat en ook moderator van die Noord-Transvaalse streeksinode en van die Algemene Sinode van 1986. In breër verband was hy voorsitter van die FAK en ondervoorsitter van die Afrikaner-Broederbond. Hy was ’n gere­formeerde Christen en ’n onbeskroomde Afrikaner.

Naudé het ná die Sharpeville-slagting en die Cot­tesloe-kerkeberaad (wat apartheid afgewys het), pro­beer om met die stigting van die Christelike Instituut die besluite van Cottesloe lewend te hou en ook die Afrikaanse kerke sover te kry om die rug op apartheid te draai.

Prof Johan Heyns

Toe hy moes kies tussen sy predikantskap van die NG Kerk, gemeente Aasvoëlkop, en die Christelike Instituut, het hy laasgenoemde gekies. Daarmee het hy, wat ook lank ’n lid van die Afrikaner-Broederbond was, sy brug na die NG Kerk en die Afrikaners amper heeltemal afgebrand. Sy invloed buite die kerk en buite die Afrikaanse gemeenskap het toegeneem, maar veral ook die radikale en soms Marxistiese standpunte wat in die Christelike Instituut se lyfblad, Pro Veritate, uitgespreek is, het Afrikaanse ore doof gemaak vir Naudé.

Heyns het binne die mure gehelp om die NG Kerk treetjie vir treetjie tot nuwe insigte te bring. Hy het ’n groot bydrae gelewer met die kerk se 1986-beleidstuk, Kerk en samelewing, en buig of bars daarby gestaan – ook toe dit tot skeuring gelei het en nagenoeg 30 000 lidmate die NG Kerk verlaat het om die Afrikaanse Protestantse Kerk te stig.

Daarna het die NG Kerk apartheid al hoe duideli­ker en beslister afgewys. Dit het in ’n sekere sin ’n hoogtepunt bereik met die “Sinode van Versoening” in Oktober 1994 toe die kerk vir Beyers Naudé in sy teenwoordigheid om verskoning gevra het dat daar nie deur die jare beter na hom geluister is nie. Die sinode het vir hom (tot ontsteltenis van sommige) ’n staande applous gegee … en Johan Heyns het die applous gelei.

’n Paar weke later, op 5 November, is Heyns in sy woonkamer deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet.

Heyns het wel soms te na aan die regering van die dag beweeg. So het hy in 1988, toe hy moderator was, ’n hoofartikel van sy kerkkoerant, Kerkbode, gerepu­dieer waarin vrae gestel is oor die min of meer permanente teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse troepe in Angola. Heyns se verklaring oor dié saak is deur die Departement van Verdediging uitgereik!

Naudé het nooit formeel aan die ANC behoort nie, maar was wel genooi om lid te wees van die ANC-afvaardiging na die Groote Schuur-beraad wat die begin was van die onderhandelinge vir ’n nuwe bedeling.

Dr Beyers Naudé

In Oktober 2001 het ek vir Naudé in ’n versorgings­oord in Johannesburg besoek. Ons het gesels oor die DF Malan-rylaan in Johannesburg wat die vorige week die Beyers Naudé-rylaan geword het, en ek het hom gevra waaroor hy in sy lewe die jammerste is. “Ek is die jammerste dat ek nie vroeër goed genoeg verstaan het wat geregtigheid regtig is nie,” het hy geantwoord. “In my jong dae het ek te min gedoen om te help dat geregtigheid kon seëvier.”

En wat is sy gevoel teenoor die NG Kerk? “Ek is al jare nie meer ’n lidmaat van die NG Kerk nie,” het hy geantwoord. “Maar daar is dinge wat nét die NG Kerk in ons land kan doen. Die NG Kerk het duidelik laat hoor dat hy jammer is oor sy regverdiging van apartheid in die verlede. Maar ek dink nie die lidmate verstaan goed genoeg hoe mense onder apartheid gely het nie. Die kerk moet hulle doelbewus begelei om dit te begryp … en dan die daad by die woord voeg en aktief geregtigheid op alle vlakke in die samelewing te be­vorder.”

Binne die mure of buite die mure? Heyns het binnekant die NG Kerk gewerk, daarin geslaag om van sy mense tot ander insigte te bring, en uiteindelik met sy lewe geboet. Naudé het gekies om van buitekant af te werk, vir sy oortuigings gely en verwerping beleef, maar ook groot aansien verwerf. Albei het ’n verskil in die gang van Suid-Afrika se geskiedenis gemaak. En albei het met hulle manier van doen mense laat verstaan: “Ons (Afrikaners) is nie almal so nie.”

Dr Frits Gaum was redakteur van Kerkbode en saam met Johan Heyns lid van die moderatuur van die NG Kerk se Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top