Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Floris Knouwds skryf:
Ons leef in ’n gevaarlike tyd. Enersyds omdat ons vryheid van spraak het. Veral op sosiale media. Om enigiets te sê. Met al die moontlikhede om ander (eksplisiet of per implikasie) in ’n negatiewe lig te stel. Andersyds omdat daar in die Suid-Afrikaanse samelewing ’n woord verskyn het wat nie genoegsaam deurdink word nie: “haatspraak”. En hierdie woord (die interpretasies daarvan) die inherente moontlikheid het om ons van ons vryheid van spraak te beroof.
Die probleem met die term “haatspraak” is dat dit oop is vir enige interpretasie. Indien ek besig is om ’n saak te stel en (volgens my hoorder se interpretasie) ’n verkeerde woord gebruik, kan ek aangekla word van haatspraak. Hy/sy kan dus haatspraak inlees in ’n normale, gewone redenasie of gesprek. Gevolglik moet ek liewer stilbly. En is my vryheid van spraak daarmee heen.
’n Subtiele vorm hiervan het nou ook nes gemaak in kerklike gesprekke. Nelis en Gustav skryf: “Selfs net ’n suggestie wat in die openbaar die karakter van gay medegelowiges negatief stereotipeer, pas nie by gelowiges nie.” So hier is ’n paar vrae waarmee ek sukkel:
Wie bepaal wanneer dit ’n suggestie is? En volgens watter norme – anders as persoonlike definisies en negatiewe inlees?
Moet ons (om net ’n suggestie daarvan te vermy) ons vryheid van spraak prysgee en geen gesprek daaroor hê nie? Maar waar gaan ons dan sulke gesprekke voer?
Moes die verklaring nie ook sê dat dieselfde geld van heteroseksuele mense wat nou (subtiel) uitgemaak word vir homofobe nie? Of tas dit nie hulle karakter aan nie?
Ons leef in ’n gevaarlike tyd. Omdat dit die potensiaal het om oop en eerlike gesprekke in hofsake te laat ontaard. En dit voel vir my asof ons in die kerk die voorbeeld van die wêreld rondom ons volg. Sonder om die uitkoms daarvan regtig te bereken.
– “Haatspraak” is ’n regsterm waarvan die betekenis bepaal word deur die Grondwet en ander wetgewing. – Redakteur.
