Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gerrie van Tonder skryf:
Mag die gees waarin dr Johan van der Merwe die scenario’s voorgehou het oor hoe die pad vorentoe lyk vir die NG Kerk, dien as ’n kragtige aansporing vir almal wat belangstel om ontvanklik te wees vir die werking van die Heilige Gees.
Inkarnasie bied hoop wat omskep kan word in daadwerklike vernuwing. Dit kan ook die ruimte skep waar mense spontaan in deernis mag uitreik en hul naaste in hul eie gemeenskap betrek om die hoeksteen van onbaatsugtige liefde en die verdraagsaamheid van ons geloof saam met ons te herontdek.
Deur opreg innoverend te wees sal ons sekerlik die wonderwerking van die Here ervaar.
In stede dat ons gewoon “ons kerk” se mure pleister, behoort ons dringend te bou aan die vernuwing van die kerk waar almal welkom sal voel ongeag status, ras, geslagsoriëntasie, voorkoms, ouderdom, adres en politieke oortuiging.
