Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wanneer jou geleefde belewenis van ’n situasie afgewater, geïgnoreer of selfs ontken word, kan dit as “gaslighting” bestempel word.

Waar pas God in?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johan Carstens van George-Suid skryf:

As ʼn gelowige en lidmaat van die NGK kan ek nie anders as om my hartseer en ontsteltenis op skrif te stel oor die huidige gebeure rondom homoseksualiteit nie.

Dat ons kerkleiers en lidmate verdeeld is oor die kwessie is bekend.

Die onlangse optrede deur twee van ons senior kerkleiers oor hierdie onderwerp doen God geen eer aan nie.

Beide kerkleiers dra skuld. Aan ons kerkleiers wil ek graag vra om te dink aan wat goed is om die geloof op te bou. Wees eensgesind onder mekaar en bring lof toe aan God uit een mond (Rom 15; 1 Kor 1). Laat julle oortuigings hieroor ʼn saak tussen julle en God wees (Rom 14).

Ek wil graag op Nelis se skrywe (Die kerk se gesprek oor seksualiteit) in die Kerkbode van 21 September 2018 reageer en drie beginsels aanraak.

Eerstens, dat ek nie saamstem met hom dat homoseksualiteit ʼn gawe uit God se hand kan wees nie. Homoseksualiteit word verskeie kere in die Bybel by die naam as ʼn sonde genoem en volgens my word dit ook ingesluit onder sonde beskryf as onsedelikheid. Hoe kan ons sonde as ʼn gawe van God ontvang as Hy nie sonde is nie en dit verafsku?

Tweedens, dat net soos hy nie ander gelowiges wat verskil van sy siening oor selfdegeslagverhoudings as sleg beskou nie, so ook dat mense hom en andere wat soos hy dink, ook nie as sleg beskou nie. Ons oordeel nie mense wat homoseksueel is nie, want ons is ook nie sonder sonde nie (1 Joh 1).

Derdens, dat ek nie met sy verstaan van sonde, onder andere, bedek onder die mantel van menswaardigheid ten volle kan saamstem nie. Ja, ons moet mekaar liefhê en met respek hanteer, maar ook vermaan.

Ons kan nie sonde onder die genade van God wegsteek nie. Ons moenie die genade van God misbruik nie (Judas). As ons dood is vir die sonde, hoe kan ons nog daarin voortlewe? (Rom 6). As ons ons sondes bely, Hy is getrou en vergewe ons, maar met die opdrag om nie meer sonde te doen nie (Joh 8; 1 Joh 3).        

Terselfdertyd moet ons ons toespits op wat God wil hê en nie aan wat die mense wil hê nie. Ek dink dat te veel aandag gegee word aan menseregte, om mense nie te na te kom nie of ongemaklik te laat voel nie, in plaas daarvan om God te eer en te verheerlik. Kies Jesus en nie die mens nie. Amen.

Ons moet ons nie laat mislei nie (1 Kor 6). Jesus sal weer kom en regverdig oordeel, ook om die mense te straf wat Hom nie ken nie en die wat die evangelie nie gehoorsaam het nie. Elkeen van ons sal self aan God moet rekenskap gee (Rom 14).

Tot dan, laat ons dan volhard in die gebed en vra dat Hy ons deur die Gees wysheid en insig sal gee sodat ons tot eer van Hom sal lewe deur net te doen wat Hy vra (Kol 1).

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top