Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Verhouding tussen kerk en koninkryk

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Een van die belangrikste vrae oor die koninkryk van God is die vraag na die verhouding tussen die koninkryk en die kerk. Terwyl skrifgeleerdes meestal aanvoer dat die kerk en koninkryk nie identies met mekaar is nie, is daar uiteenlopende menings oor hoe die verhouding tussen hulle verstaan moet word.

Dikwels word aangevoer dat die kerk maar ’n flou weergawe van die koninkryk is. Só word Alfred Loisy deur baie met instemming aangehaal wat gesê het dat Jesus die koninkryk van God verkondig het, maar dat dit die kerk was wat gekom het!

Gepaardgaande met die vraag na die verhouding tussen die kerk en die koninkryk is die kwessie of die koms van die koninkryk gaan oor die innerlike, geestelike transformasie van mense of oor die uiterlike, sosio-politiese transformasie van die samelewing.

So argumenteer sommige dat die fokus van die koninkryk van God op die konkrete verbetering van mense se lewe is en dat dit daarom in die wêreld inbreek waar enigiemand, of hulle in Christus glo of nie, in lyn met sy aardse lewe die lot van gemarginaliseerdes verander. In dié geval is die kerk eintlik oorbodig want God se koninkryk kom dikwels duideliker deur die werk van die welsynstaat.

Ander lê egter die klem daarop dat die koninkryk slegs kom waar die koningskap van Jesus, soos net in die kerk, eksplisiet bely word. Volgens dié siening is nie alles wat mense doen om die lewe van mense te verbeter dus outomaties koninkrykswerk nie. Om dié rede is die kerk van kernbelang vir die koms van God se koninkryk al verbeter die optrede van volgelinge van Jesus nie altyd die lot van ander nie.

In die lig hiervan is dit waarskynlik wys om die koms van die koninkryk te verbind aan die erkentenis van Jesus se koningskap, maar dan ook om die omvang van die transformasie wat dit bring, wyer te verstaan as net die innerlike transformasie van mense.

So word Petrus in Matteus 16:16-20, op grond van sy belydenis van Jesus as die Christus, sowel die rots waarop God sy kerk bou as die sleuteldraer van die koninkryk.

Kerk en koninkryk mag dus nie van mekaar geskei word nie. Daarom moet die kerk eerder streef om te groei in haar gehoorsaamheid aan Christus deur die innerlike en uiterlike transformasie wat God se ko­nink­ryk meebring te beliggaam.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top