Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jesus en die wet

Wanneer Jesus as die volledigste openbaring van God op aarde kom bly, dan bring Hy ’n nuwe perspektief op God se wil.

Pleks van die strakke wettisisme wat die godsdienstige leiers van sy dag beoefen het, bring Jesus die liefdesgebod. Hy kom leer en kom demonstreer dat omgee vir mekaar in die hart van God se wil is.

Een aspek van hierdie nuwe perspektief op die wet van die Here, is die verskuiwing van die klem van “Jy mag nie …” na “Jy moet”.

In die tien gebooie hoor ons hier en daar “Jy moet”, maar die woorde “Jy mag nie …” herhaal soos ’n refrein. Miskien daarom dat die godsdienstiges in Jesus se tyd so behep was met “Jy mag nie …”

Jesus gooi nie die “Jy mag nie” uit nie, maar hy kom lê ’n nuwe klem op “Jy moet …”

Wanneer Hy die wet opsom, doen Hy dit in hierdie positiewe terme: Jy moet God liefhê en jy moet jou naaste liefhê.

In die gesprek tussen Jesus en die ryk jong man, is dié jong man selfvoldaan, ingenome met homself. Hy kom immers al die jy-mag-nie-gebooie na. Maar dan gee Jesus vir hom ’n “Jy moet …” Jesus verwag van hom om hom nie net te weerhou van die kwade nie, maar om iets positiefs te gaan doen: Hy moet sy goed gaan verkoop en die geld vir die armes gee. En dit is daar waar hy die ­toets dop.

Miskien is dié klemverskuiwing van “Jy mag nie …” na “Jy moet …” ook ’n goeie manier om iets te sê van die herontdekking van ons missionale roeping. As kerk herontdek ons die “Jy moet …” van ons geloof.

En dan word dit ’n wonderlike avontuur om Jesus op hierdie pad te volg.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top