Dit is steeds ’n geval van minder en ouer lidmate, maar die NG Kerk se jongste koppetelling is nie rede om “kleinserig” te wees nie, meen dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.
’n Mens moet volgens Claassen die voortgesette afname in lidmate binne ’n “raamwerk van redes” sien.
Hy sê emigrasie en ’n dalende geboortesyfer in tradisionele voedingsgemeenskappe van die NG Kerk dra daartoe by dat die aantal belydende lidmate verlede jaar met 20 812 afgeneem het.
Dit bring die aantal belydende lidmate op 691 050 te staan. Ook dooplidate (lidmate wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie) het gedaal met 1 966 vergeleke met die vorige jaar en staan nou op 189 439, volgens die jongste amptelike statistiek wat eersdaags in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 sal verskyn.
Claassen meen die fokus verskuif nou na die verskyning later vanjaar van Kerkspieël wat na die tendense agter die data kyk.
Dié gemeente-opname word elke vier jaar gedoen en die doel is om ’n beeld van elke gemeente se huidige bedieningspatroon en situasie te kry. “Die manier hoe ons na lidmaatskap kyk, het heeltemal verander,” sê Claassen, wat volgens hom hoë eise stel aan ’n sensus wat aanvaar dat mense nie oor gemeentegrense heen beweeg nie. “(Ons weet) jongmense pendel tussen gemeentes en jy kry ’n vryvloei tussen hulle.” Claassen meen navorsing toon dat gemeentes waar “diversiteit aangespreek word, groei”. “Dis kerke wat hul eie missionaliteit ernstig opneem,” aldus Claassen.
“Ek dink vir baie mense is ‘lidmaatskap’ nie meer so (belangrik) nie,” meen ds Marlise Malherbe van NG gemeente Richardsbaai in KwaZulu-Natal. “Sommige (mense) beweeg van een event na die volgende gemeente tot waar dit vir hulle ‘lekker’ is … of dit nou musiek, die mense, die gasvryheid is.”
Malherbe, wat werk in ’n provinsie wat, tesame met Namibië, die streek met die kleinste aantal lidmate is, het gesê sy kan aan verskeie redes vir die daling in getalle dink. “Ek dink op die platteland kry mense swaar (al die vrese van grondonteiening ensovoorts is by groot dele in KZN ’n realiteit). En sommige mense verlaat dus die dorp vir die stad of trek na hulle kinders waarvan baie dan nie meer NGK lidmate is nie,” meen sy.
Ontleding: Ons moet sinvol kleiner wees
Die krimping van die kerk is ’n komplekse verskynsel wat genuanseerd benader moet word. Enkelduidige verklarings en katastrofering werk nie, skryf Danie Mouton.
Die NG Kerk se sterk historiese band met Afrikaner-nasionalisme en Afrikaans haal die kerk nou in. As daar nie meer genoeg Afrikaners in die omgewing is nie, dink ons die gemeente is gedoem. Ons kyk die res van die gemeenskap mis, en besef nie Christus stuur ons na ons hele omgewing nie. Dit bring natuurlik die gebruik van Afrikaans as die taal van ons hart en diepste geloofsbelewing in gedrang. Wanneer ’n mens sien hoeveel Afrikaanssprekendes deesdae in Engelse kerke aanbid, besef jy ons moet versigtig wees om Afrikaans nie bo die evangelie te prioritiseer nie.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/11/Mouton-Danie-Oos-Kaap.jpg” caption=”Ds Danie Mouton is direkteur van die Oos-Kaaplandse Sinode.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Die dalende lidmaattal vra van die kerk om te leer hoe om sinvol kleiner te wees en eenvoudiger te bedien. Sinvol kleiner beteken dat die amp van die gelowige en die amp van ouderling en diaken geaktiveer en toegerus word om die gemeente te lei. Dit geskied in ’n hele aantal Oos-Kaapse gemeentes (en elders) in vennootskap met ringsleraars. Ons sal in die toekoms meer hiervan moet sien.
Thomas Friedman is in die kol as hy sê: “People moved from being an audience to being participants”. Waar gemeentes lidmate toelaat om sinvol deel te neem aan die erediens word jongmense veel makliker ingesluit. Dit verg openheid by leraars en die gewilligheid om meer terug te staan sodat ander gawes en ervaring tydens die erediens benut kan word. ’n Krisis is dat ouer lidmate dikwels nie die jonger lede van die gemeenskap raaksien nie. Dan dink hulle daar is nie jongmense nie. Ons het heelwat voorbeelde van gemeentes wat dit regkry om jongmense sinvol in te sluit.
– Ds Danie Mouton is direkteur van die Oos-Kaaplandse Sinode.

