Die Algemene Sinode: Is die vervaldatum op hande?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die sewentiende gewone vergadering van die Algemene Sinode van die NG Kerk vind vanaf 6-11 Oktober 2019 in Boksburg plaas. Dit is die grootste vergadering van die kerk waar al die gemeentes van die kerk verteenwoordig word. Anders as by streeksinodes, stuur elke gemeente egter nie afgevaardigdes nie, maar word gemeentes indirek deur hulle onderskeie sinodes verteenwoordig. Dit is waarskynlik die enkele grootste rede waarom al meer stemme opgaan wat meen dat die Algemene Sinode soos ons dit nou ken die einde van sy rafkleeftyd bereik het. Hierdie standpunt word verder versterk deur besluite wat deur die Algemene Sinode geneem is wat groot spanning in gemeentes veroorsaak het.

Die ontstaan van die Algemene Sinode help ons verstaan dat die vergadering as uitdruking van die een­heid in die NG Kerk, tog ’n rol het om te speel. Die eerste vergadering van die Algemene Sinode is op 14 Oktober 1962 in die Groote Kerk in Kaapstad deur prof EP Groenewald geopen. Dit was presies ’n 100 jaar nadat die eenheid in die NG Kerk deur die Loe­dolff-saak in die Hooggeregshof in Kaapstad verbreek is.

Vanaf 1907 het die Raad van Kerke gehelp om die onderlinge band tussen die verskillende provinsiale sinodes van die NG Kerk in stand te hou. Dit is ook waar die ideaal van ’n herstelde kerkverband lewend gehou is. Een van die groot struikelblokke op pad na een herstelde kerkverband was Ordinansie 7 van 1843. Op 3 Maart 1961 is die ordinansie deur ’n privaatwet op die NGK deur die parlement herroep. Die Goewerneur-generaal van Suid-Afrika het Wet 22 op 27 Maart 1961 onderteken. Dit het beteken dat die Kaapse sinode nou saam met die ander provinsiale sinodes tot een Algemene Sinode kon toetree.

Die eenheid wat so tot stand gekom het word verwoord in die leuse van die NGK: “Een liggaam en een Gees”.

Dit is hierdie eenheid wat te midde van die groot diversiteit in die NGK as ’n kosbare skat opgepas moet word. Die Bybelse opdrag tot eenheid soos wat dit in die belydenisgrondslag van die NGK beskryf word maak dit ononderhandelbaar. Die sigbare gestalte van eenheid begin immers in eie kring! Die werksaamhede en die mandaat van die Algemene Sinode mag dalk verander maar die vervaldatum mag nie op hande wees nie.

In die volgende maande sal ons in die rubriek te­rug­­gaan na die verlede en enkele belangrike en soms omstrede besluite van die Algemene Sinode herbesoek. Die verlede help ons dalk op die pad vorentoe.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.