Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Só geld gees van die Wet en nie die letter nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In missionale diskoerse is die koninkryk van God ’n belangrike tema. Die boek Rut gee perspektief op die koninkryk van God. Dit is ’n novelle met ’n duidelike krisis, intriges, klimaks, ontknoping en af­loop. Die karakters is versigtig gekies en vorm ’n integrale deel van die verhaal, met name wat iets van die aard en boodskap van die verhaal verraai.

Die feit dat Naomi vir die vrouens van die dorp sê “noem my nie meer Naomi nie, maar noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitter aangedoen” (Rut 1:20) is waarskynlik ’n aanduiding dat name in hierdie verhaal ’n belangrike funksie vervul. Boas se naam beteken “In-hom-krag”, die losser se naam beteken “So-en-so”, terwyl die seuntjie Obed “Hy-wat-dien” beteken. Ironies is dat daar in die dorp Betlehem “Broodhuis” nie meer brood is nie (hongersnood).

Op die oog af lyk dit of die boek in die tyd van die rigters of vroeë koningstyd geplaas kan word. Vandag word egter algemeen aanvaar dat dié boek uit die na-ballingskap dateer. Die verhaal skep die indruk dat dit ’n reaksie op Deuteronomium 23:3 is wat bepaal dat geen Ammoniet of Moabiet lid mag word van die volk van die Here nie, asook Esra en Nehemia se voorskrifte in verband met uitlandse vroue (vgl Esra 10:10-11en Neh 13:23-31). Die boek Rut teken die volk van die Here as ’n inklusiewe gemeenskap, teenoor Esra-Nehemia se eksklusiewe beskouing.

Die fokus van Rut lê op meer as een vlak. Daar kan gewys word op die verband tussen goddelike beskikking en menslike verantwoordelikheid, op die feit dat God se volk oor tale, kulture en volke heen sny, op die waarde van mense se lojaliteit aan mekaar en op die letter en die gees van die Tora (die Wet van Moses).

Boas doen ten opsigte van Naomi en Rut telkens meer as wat die Tora vereis. So byvoorbeeld, bepaal dit dat indien die snyers met die oes, trossies druiwe, olywe of koringare mis, moet hulle dit net so los. Hulle mag nie weer teruggaan en dit ook oes nie, want dit is bedoel vir die armes. Boas gee sy snyers opdrag om aspris meer van die opbrengs mis te oes. Met die dat Rut in die nag by Boas kom lê, stel sy haar bloot om in die skande te kom. Boas troos haar met die verseke­ring dat hy haar sal beskerm.

Die familielid wat eerste as losser behoort op te tree, gee sy lossingsreg weg toe hy hoor Naomi se familie­grond kom hom nie toe nie, maar gaan na die seun wat vir Rut gebore sou word. Boas as volgende losser daarenteen neem Rut as vrou al is daar vir hom geen wins in nie. Boas toon deur sy optrede dat dit in die koninkryk van God nie gaan om die letter van die Wet nie (bv Esra-Nehemia), maar om die gees van die Wet.

▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top