Sonder sy siel is die kerk dood

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Calvyn het gesê: “Die Woord is die siel van die kerk.” Miskien is dit die rede waarom die Algemene Sinode sedert sy ontstaan in 1962 belang­rike besluite oor die saak geneem het. Die interpretasie van die Woord en die gesag wat daaraan toegeken is, was nog altyd ’n belangrike saak in die kerk. Dit is daarom met goeie rede dat gesê word dat Skrifgesag in die tyd waarin ons leef die spreekwoordelike olifant in die kamer van die NGK geword het. Dat daar met hier­die olifant geworstel word, blyk uit besluite van on­langse Algemene Sinodes:

In 2004 het die Algemene Sinode ’n verklaring goedgekeur wat na gemeentes en ringe vir bespreking verwys is. Daarin is dit onomwonde gestel dat die NGK bely dat die Bybel die Woord van God is en dat dit daarom gesag het, betroubaar is, duidelik is en voldoende is. Dit sou nie beteken dat lidmate hulle denk­vermoë moes opoffer, dat die Bybel beskou kon word as ’n eksakte handboek of dat die hele Bybel so maklik is om te verstaan dat enige mens alles onmiddellik en selfstandig kon begryp nie.

In 2013 is hierdie verklaring opgevolg met ’n be­sluit waarin die kerk se standpunt oor die gesag van die Woord as die enigste norm vir ons geloof herbevestig is. Die sinode het ook beklemtoon dat “Skrif en Belydenis” binne hulle historiese konteks gelees en met verantwoorde hermeneutiek vertolk moes word sodat die kerk die leiding van die Heilige Gees vir die tyd kon hoor.

Terwyl die gesag van die Woord nooit openlik be­vraagteken is nie, het die hermeneutiese vertolking van die Woord in die verlede dikwels storms veroorsaak.

Die feit dat die NGK apartheid teologies uit die Skrif gemotiveer en regverdig het, het ’n pynlike reg­stelling in 1986 geverg. Dit het in 1987 tot kerkskeu­ring en die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse Kerk gelei. Besluite oor die toelating van vroue tot die amp, kinders se deelname aan die nagmaal en die 2015-besluit oor selfdegeslagverbintenisse is nog enkele voor­beelde.

Dat die Algemene Sinode in die verlede die erns en kompleksiteit van hierdie saak verstaan het, word be­vestig deur die bewoording waarmee die 2013-besluit afgesluit word: “Die Sinode besef dat baie lidmate geweldige onsekerhede op baie vlakke beleef en wil lidmate verseker van deernis met hulle situasie. Die Sinode wil ook lidmate en leraars daarop wys dat, juis wat ons van die Bybel en Belydenisskrifte as antwoord hierop glo, ons weerhou van fundamentalisme (aan die een kant) en vrysinnigheid/radikale sekularisme (aan die ander kant).”

Hoe die Algemene Sinode in 2019 met die “siel van die kerk” gaan handel, gaan deurslaggewend wees vir die pad vorentoe. Gee die NGK sy siel prys, is die kerk dood.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.