Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Prof Elna Mouton wat gister ’n “genadetitel” by Wellington Moederkerk ontvang het toe sy as leraar bevestig is. Foto: Le Roux Schoeman

Bevestiging: ‘Genadetitel’ vir Elna Mouton

“Dominee is ʼn genadetitel. Ander titels verdien ʼn mens op ʼn manier, maar dié van ʼn dominee word jy deur genade gegun,” het ds Bennie van Rensburg, leraar van die Wellington Moederkerk, gister aan prof Elna Mouton tydens haar bevestiging van dié titel gesê.

Die Wellington Moederkerk bied vir Mouton ʼn “tuiste” terwyl sy haar roeping as kapelmeester by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit gaan uitleef, het ʼn inskrywing op die gemeente se Facebookblad gelui.

Prof Christo Thesnaar, ʼn oudkollega en lidmaat van die gemeente, het die bevestiging waargeneem.

Hy het Mouton genooi om saam met hom te stap na ʼn gedekte tafel waarop belangrike simbole uitgepak was van die funksies wat sy voortaan sou vervul: ʼn Bybel, ʼn bak met water (doop), brood en wyn (nagmaal).

Hy het Mouton genooi om ʼn kers aan te steek as simbool van gebed vir die gemeente of mense wat in die toekoms die sentrum gaan besoek.

Thesnaar het gesê die tafel is ʼn simbool van die “inklusiewe tafel of oop ruimte waar ons (geestelike leiers) God saam met ander ontmoet”.

 “Mag God jou die deernis gee om as geestelike leier ander te versorg,” het hy gesê.

Mouton het na die handopleggingseremonie die gemeente vir ʼn “gul ontvangs” wat “gestaltes van God se deernis en liefde betoon” bedank.

“Ek voel geëerd om die drumpelfiguur te wees tussen die Sentrum vir Spiritualiteit en besoekers,” het Elna gesê.

As intreepreek het Mouton ook Jesus se intreepreek uit Lukas 4 gekies, het sy vir die eerste keer vanaf die gemeente se preekstoel gesê.

Later het sy ook na Jesus se “staatsrede”in Lukas 6 verwys wat sê hoe geseënd gelowiges is wat verstoot of gehaat word “ter wille van die Seun van die mens”.

Mouton het dié teks só saamgevat: “Julle is vry, maak dan ander ook vry.” Dit lyk vir my asof Jesus sê: ‘Verras jou vyand deur met liefde te reageer’”.

Sy het laastens gevra: “Wat sou dit in ons tyd beteken? Hoe kan ons teenoor ons vyande vanuit Jesus se warm hart reageer?”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top