Jare gelede het ek ’n boek geskryf met die titel Waar hoop is, is lewe, waarin ek onder andere oor Jesus se intog in Jerusalem op Palmsondag geskryf het as sy “intog in vyandsgebied”.
Jerusalem was vyandsgebied, het ek destyds geskryf, omdat dit “die sentrum (was) van hulle wat Hom van die begin af gewantrou het, toenemend weerstand gebied het teen sy optrede en begin soek het na ’n manier om van Hom ontslae te raak.”
Met sy intog daag Hy die mag van die vyand uit, omdat Jerusalem nie bedoel was om die sentrum van menslike uitbuiting en magsuitoefening te wees nie, maar om die stad van God te wees – die sentrum van God se shalom, God se orde van reg en geregtigheid, omgee en ontferming; ’n orde wat totaal anders lyk as die wanorde van menslike uitbuiting, verdrukking en die instandhouding van onregverdige sisteme.
So gesien, word die intogverhaal meer as net die beskrywing van die opspraakwekkende insident waarmee die laaste week van Jesus se aardse lewe voor sy teregstelling aan ’n kruis ingelui is. Dit word as ’t ware ’n metafoor vir sy ganse lewe wat van geboorte tot dood beskryf kan word as die betreding van vyandsgebied. En ook van sy voortgesette intog in die wêreld met al sy vyandigheid teen God en sy geregtigheid.
’n Kunswerk wat die intoggebeure op soortgelyke wyse uitbeeld, is die skildery Guatemala: Prosessie van die Amerikaanse kunstenaar Betty LaDuke (1933- ). In hierdie helderkleurige skildery word Jesus uitgebeeld as iemand uit die werkersklas wat soos in die Bybelverhaal sy opwagting op die rug van ’n donkie maak, geklee in groen wat waarskynlik lewe, vernuwing en energie simboliseer.
Op die voorgrond is daar vyf menslike figure met die kleredrag en gelaatstrekke van lede van die landelike werkersklas van Guatemala. Een van dié figure, met ’n kind op haar rug, is besig om ’n kers, sinnebeeld van gebed, naas drie ander brandende kerse aan te steek .
Swewend bo die vyf menslike figure is daar sewe maskeragtige gesigte wat verband hou met die maskers wat in godsdienstige prosessies in Guatemala (en elders in Latyns-Amerika) gedra word. In hierdie prosessies waarin die vernietigende Spaanse verowering van Sentraal- en Suid-Amerika uitgebeeld word, dien die maskers as voorstelling van die wrede conquistadores (veroweraars).
Die feit dat die sewe maskers saam met die vyf menslike figure die getal twaalf – die getal van Jesus se eerste volgelinge – opmaak, kan moontlik gesien word as uitdrukking van die soort vyandskap wat deur Jesus gekonfronteer en uit die weg geruim word.
Ook hulle wat vyande was, word vriende en volgelinge van Jesus en deel van sy voortgesette intog in die wêreld in.
Bokant hierdie voorstelling van twaalf dissipels is daar twee pare van drie identiese vrouefigure met op hulle kop mandjies vol graan wat van weerskante as dankoffers na die Jesusfiguur aangedra word.
Saam met al hierdie menslike figure is daar ook voëls, berge, blomme en ’n helderblou lug wat dui op die kosmiese aard van Jesus se intog: Nie net die mensewêreld word deur sy koms geaffekteer nie, maar ook die natuur. Die Bybelse visie van shalom is inderdaad een van omvattende vernuwing van die ganse geskape werklikheid om die heerlikheid van God en Christus te weerspieël.
Dit is betekenisvol dat hierdie skildery van LaDuke ook op die omslag van die vroueteoloog Carter Heywood se boek Saving Jesus from the right gebruik is. In hierdie boek met die subtitel Rethinking what it means to be Christian stel Heywood in vooruitsig “a mighty counter-cultural force” wat sy met die term “christic” beskryf – om te dui op die radikaal lewensveranderende implikasies van Jesus se persoon en lewensbenadering.
Van die skildery op die omslag sê Heywood: “The colourful painting evokes, for me, the Spirit connecting us all – in each particular historical place and between and among our diverse places, cultures, and species in history.” Dit resoneer met wat sy elders in die boek oor Jesus sê: “Jesus as our brother, infused with a sacred power and passion for embodying right mutual relation, and ourselves with him in this commitment.”
Wat myns insiens deur hierdie skildery belig word, is dus nie net dat Jesus na die wêreld gekom het om die vrede tussen God en mens te herstel nie (Rom 5:1 ev), maar ook dat God deur Christus “alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen” (Kol 1:20).
Die lyn kan natuurlik dan ook na ons toe deurgetrek word: “Soos Jesus word ons geroep om ons intog te maak in die gebied van die vyand,” het ek dit destyds verwoord: “om die wêreld van onreg te betree en stelling in te neem teen alles wat God- en mensonterend in die samelewing is … met die vooruitsig dat ons óók saam met Hom die terrein van God se heerlikheid sal betree.”
▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.