Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Barend Gildenhuys van Brooklyn skryf :
Leopold Scholtz se insiggewende artikel oor kerklidmaatskap verwys.
Die skrif is inderdaad ook vir die NG Kerk aan die muur. Nederland is nie meer duisende kilometer van ons af nie maar op ons drumpel by wyse van spreke.
Nie alleen is die katedraal in Utrecht in die mark vir ’n euro nie maar die historiese kerk uit die 15de eeu in De Waag, Amsterdam, is nou ’n restaurant.
In die 17de eeu het daar ’n twis in Nederland ontstaan oor Calvyn se uitverkiesingsleer (Mal 1:1). Die sinode van 1618/19 het in die Grote Kerk (Onze-lieve-vrouwe), Dordrecht, vyf reëls opgestel om die Remonstrante te probeer stil maak. Vandag weet die Nederlanders dat dit (predestinasie) snert is en gee Arminius gelyk. Hieroor en oor verskeie ander dogmatiese kwessies het die kerk vandag leeggeloop en behalwe vir ’n paar vasbyters (PKN) is die massiewe Grote Kerk Dordrecht, vandag vir alle praktiese doeleindes ’n museum. Die kerk in Holland is as ’t ware deur die lidmaat van die 21ste eeu uitgevang.
As die NG Kerk geloofwaardig en relevant wil bly, sal hulle ernstig oor dr Scholtz se artikel moet besin. Vandag se lidmaat is siek en sat vir die ewige kerktwiste deur predikante sedert die jare her – as dit nie Belhar is nie dan is dit die gays, maar twis moet hulle twis en hofsake kos geld, groot geld met komplimente van die lidmate.
