
Frits Gaum het aan prof Amie van Wyk, skrywer van Augustinus en wenner van die 2019 Andrew Murrayprys, gevra:
Wie is Amie van Wyk?
Hy is ’n afgetrede predikant wat nog dikwels preek. Hy is ook afstandsrektor van ’n Gereformeerde teologiese skool in die DRK. Hy is lief vir teologiese studie en die skryf van artikels en speel ook gholf.
Hy is in 1937 gebore op ’n familieplaas in die Karoo. Hy studeer teologie, bedien drie Gereformeerde gemeentes en doseer daarna teologie in Hammanskraal en Potchefstroom. Hy was ook redakteur van In die Skriflig asook Die Kerkblad. In 2004 ontvang hy die Totiusprys vir teologie. In 1997 het hy en drie ander ’n skuldbelydenis oor apartheid die lig laat sien.
Hy is getroud met Ria, het twee kinders en nege kleinkinders. Hy is ’n gewone mens wat lewe van die genade van God in Christus.
Wie was Augustinus?
Hy was ’n kerkvader wat in Noord-Afrika gelewe en gewerk het (354-430). Hy was een van die grootste teoloë wat ooit geleef het (sonder enige bepaalde teologiese opleiding) en wat die kerk- sowel as kultuurgeskiedenis van die Weste diepgaande beïnvloed het. As jong man het hy nogal ’n wilde lewe gehad en selfs by ’n Christelike sekte aangesluit. In 386 kom hy in Milaan tot bekering en sy lewe verander daarna radikaal. Hy keer hierna na Afrika terug, waar hy eers priester en daarna biskop word.
Wat is Augustinus se belangrikste nalatenskap?
Hoe vat ’n mens die teologie saam van ’n teoloog wat ongeveer 5 miljoen woorde geskryf het? Ek noem slegs enkele van sy belangrikste bydraes:
In die periode voor Augustinus het teoloë nogal sterk klem gelê op die mens se vrye wil, maar Augustinus het Paulus ontdek en daarmee die boodskap dat die mens net uit genade en deur geloof gered word. Vandaar sy spreuk: “Gee wat U vra, en vra dan wat U wil”. Sy tweede belangrike boodskap is die beklemtoning van die eenheid van die kerk. Mens behoort nie die heiligheid van die kerk ten koste van die eenheid te beklemtoon nie. Die derde is sy fokus op die koninkryk van God, die ‘stad van God’, wat alle aardse koninkryke oorleef en uitloop op die nuwe hemel en nuwe aarde.
Wat sy etiek betref: Nederigheid was vir hom ’n sentrale tema, want hy het hoogmoed gesien as die hoofkenmerk van sonde. Christus se vernedering dien hier as groot voorbeeld. Tweedens was waarheid ook vir hom belangrik en het hy hom teen alle vorms van leuens verset. Ook ’n noodleuen is verwerp. Laastens was liefde vir hom die hoofkenmerk van die Christelike lewe, liefde tot God en tot die naaste. Oor selfliefde was hy skepties.
Het Augustinus in bepaalde opsigte “gedwaal”?
Ja, ek kan slegs enkeles noem: Volgens hom word die oorspronklike sonde deur die mens se lusbegeerte oorgedra en voortgeplant, met die gevolg dat seksualiteit in die huwelik gesien word as ‘vergeefbare sonde’; genade word deur die doop ingestort, sodat alle ongedoopte kinders verlore gaan; sommige meen dat volgens Augustinus niemand van sy saligheid seker kan wees nie en dat genade verliesbaar is.

Rethie van Niekerk het aan prof Jaap Durand, skrywer van In awesome wonder en wenner van die 2019 Andrew Murray-Desmond Tutuprys, gevra:
Hoekom ’n boek oor geloof en twyfel? Wie is die leser wat u in gedagte gehad het en wat hoop u gebeur met die leser terwyl hulle die boek lees?
Geloof dra altyd ’n moment van twyfel: soms minder, soms meer. Vir ’n Christen kan dit soms ’n worsteling beteken wat hom of haar diep ongelukkig, selfs onrustig, maak. Ek praat uit ervaring. Daarom het ek die boek vir myself en vir ander soos ek geskryf.
Ek hoop dat die lesers van my boek gehelp kan word om nie in ’n staat van twyfel vasgevang te word nie, maar ook sal weet dat daar ’n pad uit die twyfel is, omdat God in ons twyfel steeds met ons besig is. Daarom is daar uitsig uit die donker van twyfel, omdat God ons nie in die twyfel alleen laat nie. Hy bly getrou en die boek wat ek aan myself geskryf het, is maar net ’n hulpmiddel om dit te onthou – ook vir ander mense soos ek.
Wat is die rol van geloof in Jaap Durand se lewe? En twyfel?
Ek kan nie veel byvoeg by wat ek reeds gesê het nie. Net dit: Twyfel het nie by my opgekom in krisistye (soos byvoorbeeld die kanker-dood van my vrou) nie. Dit was asof God op een of ander manier, wat net Hy weet, my geloof staande gehou het. Twyfel pak my soms op onverwagte tye, wanneer vrae opkom wat moeilik is om te beantwoord. Dit word hopelik, miskien op ’n lompe manier, in die boek duidelik.
Met die lees van die boek was ek deurgaans bewus daarvan dat hierdie deurlééfde teologie is. U verwys self ook na u eie lewensfase. Hoe help die ouderdom ’n mens om (anders?) te praat oor God, geloof en twyfel?
Inderdaad bring die ouderdom nie net meer rypheid in jou teologiese denke nie, maar ook meer vrae en die wete dat teoloë te maklik praat oor sake waarin hulle meer beskeie moet wees.
Wat beteken dit vir u om die ontvanger van ’n Andrew Murray-Desmond Tutuprys te wees?
Verras en dankbaar omdat ek, in alle opregtheid, nie daarna gestrewe het nie.
Een van die vrae wat die boek ook behandel, is: Hoe is God betrokke by lyding? Kan u vir Kerkbode se lesers ’n kort antwoord hierop gee?
Uit eie ervaring, meer as een keer, dat God juis in lyding Immanuel, God met ons, is. Dit was ook my ervaring hier by die aftree-oord waar ons bly: dat mense in tye van lyding soms getroos word op ’n wyse wat ons nie kan begryp nie. Dat God ook – en veral – in lyding die mens nie aan hom- of haarself oorlaat nie, is ’n ervaringsgetuienis wat telkens na vore kom as jy bereid is om iemand wat in nood is, te begelei – selfs woordeloos.

Charlene van der Walt het aan Siya Khumalo, skrywer van You have to be gay to know God en wenner van die 2019 Desmond Tutu-Gerrit Brandprys, gevra:
Jou boek getuig dat ons seksualiteit nie iets is wat ons van God vervreem nie, maar juis iets is wat ons in staat stel om in ’n verhouding met God te leef. Vertel iets van jou reis wat jou tot by hierdie insig gebring het.
Ons samelewing smee dikwels ’n komplot om mense te weerhou van die beste en gesondste weergawes van hulleself, beide as dit kom by seksualiteit en spiritualiteit. Soveel leuens word in stand gehou wanneer verkragting, gesinsgeweld en ander vorme van geweld verdoesel word om valse pretensie te beskerm. Ek het by ’n punt gekom waar ek gevoel het dat ek nie meer leuens in stand wil hou nie. Ek wou nie meer van God verwyder voel omdat ek nie kon voldoen aan die heteroseksuele huweliksmodel van verhoudings nie. Ek het tot inkeer gekom toe ek besef dat ek self nie geglo het dat ek werd is om te lewe nie, omdat ek gay is. Ek moes myself vergewe omdat ek is wie ek is. Dit was ’n skok vir my om te besef op hoeveel verskillende maniere ek myself gestraf het, bloot omdat ek bestaan. Ek het hard geveg om my weg terug te vind na myself en na die besef dat die God van geregtigheid nie teenoor my ervaring van my seksualiteit staan nie, maar juis daarin teenwoordig is. My proses het my op ’n plek gebring waar ek nie my seksualiteit wil onderdruk nie, maar waar ek volkome oortuig is dat my seksualiteit deel is van my geloof in skoonheid, genade en integriteit.
Die komplekse reis na die integrasie van seksualiteit en spiritualiteit is op ’n besondere manier verbind aan ons beliggaming en tog is godsdiens dikwels so negatief oor ons lyflikheid. Deel met ons iets oor jou gedagtes en jou persoonlike reis in dié verband.
Godsdiens het inderdaad geweldige probleme met my beliggaming, beide omdat ek ’n swart man is en omdat ek gay is. Die beste ding wat ek vir myself en my eie proses kan doen, is om my weg vir eers te vind buite “die kerk”, in die eng sin van die woord. Die prys wat ek tans vir my geestesgesondheid betaal, is dat ek afgesny is van ’n gemeenskap wat my juis soveel kan leer van lewe en saamwees en betekenis. Ek probeer egter teenwoordig in my liggaam leef en probeer verantwoordelik leef in verhouding met mense en die aarde.
Waarom sou jy wou hê mense moet die boek lees?
My grootste begeerte is dat mense sal ontdek dat hulle verby vrees en angs die vermoë het om mense lief te hê ver bo hulle eie verwagtings.
As jy een boodskap het vir die kerk rakende gender en seksualiteit, wat sal dit wees?
Ek dink ek sou ’n vraag wou vra: Werk die huidige raamwerk van gender en seksualiteit in die kerk of is dit myle verwyder van regte mense en van die lewende Christus?
