Quo Vadis – 2015 of 2019?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Chael TerBlanche van Pretoria skryf per e-pos:

Na aanleiding van die hofuitspraak en die besluit van die ASM om nie teen die uitspraak te appelleer nie, waarmee ek heelhartig saamstem, laat dit ons egter in ’n staat van onsekerheid. Volgens my was die gevoel van die meerderheid in die kerk dat die 2015-besluit nie kon staan nie en daarom die besluit van 2016. Ongelukkig het die kerk nie haar eie reëls of orde nagekom nie en het die hof besluit dat dit onregmatig was en daarom is ons nou weer terug waar ons was. So die vraag is nou hóe om vorentoe te gaan. Die stilte vanaf kerkweë se kant skep net onnodige onsekerheid, want ek glo die besluit van 2015 is nié ’n besluit wat deur die meerderheid van lidmate ondersteun word nie soos reeds bewys is (besluit van 2016).

Ek stem nie noodwendig saam met die gevolgtrekking van André Bartlett in die Kerkbode dat die kerk nie regte van lidmate kan wegneem wat dit voorheen gegee het nie. Die diskriminasie volgens die hof is omrede die kerk self nie duidelikheid het oor die aanvaarbaarheid van homoseksualiteit binne die kerk nie. Aangesien daar nie ’n dui­delike standpunt in die NGK is nie, is dit diskriminasie volgens ons grondwet om teen persone te diskrimineer op grond van hulle seksualiteit. Ek glo hier­die is nie van toepassing op alle kerke nie, net op die NG Kerk as gevolg van die buite-kerkordelike besluite wat ons geneem het.

So ver my kennis strek het ons ’n Presbiteriaanse regeringstelsel en dink ek die moderatuur het nou die hulp nodig van ons gemeentes in dié geval. Ek glo nie die kerk kan bekostig om die onsekerheid vir te lank te verduur nie en daarom is die gepaste geleentheid om dit aan te spreek die Algemene Si­no­de van 2019. So, my oproep tot alle lidmate van die kerk is om hulle kerk­raad te versoek om ’n standpunt oor hier­die saak te formuleer om dit deur te gee aan die plaaslike ringe, streeksi­no­des en daarna die algemene sinode later in die jaar. So kan die moderamen vroeg genoeg weet wat die standpunt van die gemeentes is en daarvolgens ’n besluit te kan neem tot voordeel van die kerk reeds by ASM later hierdie jaar.

Ek is bewus dat die kerk nie ’n de­mo­krasie is nie, maar ons almal weet teen dié tyd wat die teologiese standpunte rondom die saak is en ons hoef nie weer deur taakspan na taakspan te gaan om dit uit te vind nie. Wat ons nodig het is ’n duidelike besluit van die kerk waarmee ons kan saamstem of nie. Dit is dan vir elkeen self om te besluit of hy of sy daarmee kan saamleef of nie, maar die stilte en onsekerheid kan nie meer nie.