Die spiritualiteit van gestuurde mense

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Is daar iets soos “missionale spiri­tualiteit”?

Daar behoort nie te wees nie, maar daar is.

Die ideaal is dat ’n dieper toewyding aan God vanselfsprekend sal beteken dat God se roeping al meer van jou lewe besit neem. Die ideaal is dat hoe beter jy die Here ken, hoe liewer jy ook vir sy wêreld sal wees. Die ideaal is dat ’n passie vir die Here vanself sal veroorsaak dat gelowiges passievol sal wees dat ander mense Hom sal leer ken.

Tussen die ideaal en die werklikheid is daar egter ’n gaping.

In die regte lewe gaan die begeerte na ’n dieper ervaring van God baie keer hoofsaaklik oor wat ekself daaruit kry, oor innerlike vrede en geluk. Populêre spiritualiteit is gewoonlik meer op self­verwesenliking ingestel as op die verwesenliking van God se koninkryk.

Ons praat daarvan as die privatise­ring van geloof en dit is ’n beduidende tendens in die kerk. Ons sien uit navorsing dat die tendens ook groei: Lidmate se geloof raak al hoe meer na binne gekeer. Ons lidmate is oor die algemeen getroue Bybellesers en bidders. Maar hulle persoonlike godsdiens lei nie vanself tot betrokkenheid in die wêreld nie.

Dit kan help om breedweg te dink oor die kontras van ’n missionale teen­oor ’n populêre spiritualiteit:
Populêre spiritualiteit is meestal individualisties, iets wat ek op my eie doen. Missionale spiritualiteit is ’n funksie van die liggaam van Christus en bring gemeenskap tot stand.

Populêre spiritualiteit is gerig of die self en self-aktualisering terwyl missionale spiritualiteit Jesus volg in self-opoffering.

’n Mens kry ’n sekulêre spirituali­teit wat soek na ’n ervaring van die transendente in baie abstrakte terme. Missionale spiritualiteit ontwikkel ’n verhouding met ’n persoonlike God deur die persoon van Jesus Christus.

Gestuurde mense soek nie na die god binne jouself nie, dit soek na ontmoetings met die lewende God in die Woord, in medegelowiges én in die wêreld.

Missionale spiritualiteit lei nooit tot onttrekking van die wêreld nie, dit vat ons altyd terug na die wêreld soos Jesus tussen mense kom woon het.

Waarop missionale spiritualiteit uitloop, is nie kalmte, innerlike vrede of mindfulness nie. Dit lei na ’n lewe van gehoorsaamheid in die voetspore van Jesus wat na die wêreld gekom het om te soek en te red.

Spiritualiteit is ’n gewilde onderwerp. Mense binne en buite die kerk het ’n behoefte aan diep ervarings wat hulle help om sin te maak van die lewe. Alle spiri­tualiteit is egter nie gelyk nie. Ons het geestelike dissiplines nodig wat ons sal vorm as gestuurde mense, ’n missionale spiritualiteit wat Bybels is en anders lyk as die spiritualiteit wat sterk deur die kultuur van ons tyd en die behoeftes van mense gevorm word.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.