“Ons het almal gehoor en beelde gesien van die katastrofiese gevolge van die vernietigende sikloon Idai in Mosambiek, Malawi en Zimbabwe. As gelowiges kan ons nie hande gevou sit terwyl duisende mense in ons buurlande so swaarkry nie,” sê ds Gerhard Botha, hoof uitvoerende beampte van KwaZulu-Natal Maatskaplike Dienste (CMD).
Een van KZN CMD se vennote, Global Relief, waarby ds Loffie Schoeman van Eshowe betrokke is, het ’n geleentheid aan KwaZulu-Natal gebied om te help. Global Relief stel watersuiweringsakkies beskikbaar. Een so ’n sakkie kan 20 liter water suiwer en kos R2,50.
Volgens Loffie het KZN-gemeentes binne ʼn week R18 000 hiervoor geskenk. Global Relief het toe uiteindelik R34 000 se sakkies na Mosambiek gestuur. “Die sakkies is in Kemptonpark aan ds Carl Lourens van Krugerwildtuin-gemeente oorhandig wat dit in Mosambiek in die Buzi-distrik en Beira-area onder gemeentes versprei het,” sê Loffie.
