Groot versoening lê ook in die alledaagse lewe

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek luister onlangs na ’n kort onderhoud met iemand wat in die Rwan­­da Genocide Centre werk. Hy verwys na die buitengewone verhale van vergifnis wat oor die afgelope de­ka­des in Rwanda plaasgevind het, maar bring die saak dan aarde toe deur te her­inner dat die verhale van oortreders en slagoffers wat in nou verhouding met me­kaar saamleef in werklikheid die uitsondering is. Meer algemeen is die verhale van slagoffers en oortreders wat langs mekaar leef, mekaar vermy, die siklusse van geweld in die samelewing breek, maar die ruimte skep waarbinne ’n volgende generasie die werk kan doen om die samelewing en die verhoudings tussen mense weer normaal te laat vorm aanneem.

Ons herdenk hierdie jaar 25 jaar van demokrasie. Ons hou Algemene Sinode 33 jaar na Kerk en Samelewing. En tog het verskeie ervarings oor die afgelope paar jaar ons gemeenskappe herinner dat ons pynlike verlede van geskeidenheid, rassisme en onderdrukking nog nie naastenby tot ’n einde gekom het nie.

Die volgende generasie is reeds hier. Die volgende generasie van predikante, kerkraadslede en lidmate is hier. Die volgende generasie van Suid-Afrikaners is hier. Tog is daar so baie van die uitdagings van twee of drie of ses dekades gelede wat steeds op ons tafel is. Time plaas ons op die voorblad in ’n uitgawe oor ongelykheid. Na die volgende sensus sal ons die kaarte opstel wat herinner dat die patrone van geskeidenheid in waar ons leef steeds voortgaan. ’n Groot deel van die dooplidmate van ons gemeentes sal steeds deur hulle hele skoolloopbaan gaan sonder dat hulle die geleentheid het om deur swart onderwysers gevorm te word.

Aan die ander kant maak tyd moontlikhede oop. Ons gemeenskappe is op ’n totaal ander plek as 25 of 33 jaar gelede. Maar die werk van herstel gaan vir gene­rasies voortduur. Wat hierdie werk vra moet egter verander van een dekade na die volgende. En dalk is dit tyd dat ons weer dink oor wat dit is wat die NG Kerk spesifiek nou mee moet besig wees om te werk vir herstel van die breuke in ons samelewing.

In baie gemeenskappe is die uitda­ging waarskynlik om te leer om in die alle­daag­se saam te leef. Wit en swart ouers wat saam werk om plaaslike openbare skole ruimtes te maak waar kinders saam kan groei en ontwikkel. NG gemeentes wat uitwerk hoe om voort te gaan om gemeente te wees wan­neer die omgewing nie langer hoofsaaklik uit wit Afrikaanse inwoners bestaan nie. Bure wat verskillende kante van ons geskiedenis verteenwoordig en tog die stadige werk doen om vertroue tussen mense in ’n plaaslike gemeenskap te help bou. Die belangrike uitda­gings van herstel en versoening vir die volgende jare gaan dalk nie deur groot simboliese handelinge of nasionale projekte kom nie, maar deur die alledaag­se werk van saam leef, saam leer en saam bid.

▶ Ds Cobus van Wyngaard is predikant van NG Pretoria and dosent in Sistematiese Teologie by Unisa.