Ervaring van ’n eerste sinodesitting

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr John Carstens skryf per e-pos:

Die pas afgelope Sinodesitting van Wes-Kaapland was my eerste.

Die vergadering het begin met gesang deur ongeveer 650 stemme. Voorwaar ’n meevoerende ondervinding. So is die vergadering na elke breektyd ingelei met gesang.

Die vergadering het plaasgevind in ’n gees van wedersydse respek en ruimte vir mekaar, om te luister en toe te laat dat die Heilige Gees ons lei.

Verskeie sake is bespreek en het ingesluit: armoede, ekologie, ekonomie en die volhoubaarheid van gemeentes, menswaardigheid, ons politieke landskap, spiritualiteit, selfdegeslagverhoudings, die kerk in die volgende generasie, evangelisasie en nuwe uitdrukkings van kerkwees en teologiese opleiding.

Nuwe vriendskapsbande is gesmee en ons het van mekaar geleer om op nuwe maniere en verbeelding die goeie nuus uit te dra en diensbaar te bly.

Gesprekvoering oor sake is in groepe van 8 tot 10 afgevaardiges rondom ’n tafel gevoer met terugvoering deurmiddel van geskrewe stukke of WhatsApp. Ek was soms van mening dat te min tyd toegelaat is om behoorlike gesprekvoering te regverdig.

Ook was daar sekere sê-goed wat ek as onvanpas gevind het, net soos daar uiteenlopende standpunte was, maar dat daar nog steeds met wedersydse respek aanvaarding was.

Verskeie taakspanne is aangestel, ook binne ringverband om uitvoering te gee aan besluite en werksaamhede.

Lidmate het nou ook die geleentheid om opgelei te word as bedienaars en deur ’n ring bevestig te word onder mentorskap van gemeenteleraars.

Dit is sowaar ’n opwindende tyd wat voorlê vir die kerk maar dit vra ook verantwoording en tot God alleen die eer.