Dankie, prof Naudé

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johan van Aswegen van die NG gemeente Moreletapark skryf:

Baie dankie aan prof Piet Naudé wat dit so goed gestel het met sy stelling: “En as jy 40 dae gaan vas om die liggaam van Christus te skeur, dan weet ek nie tot watter God jy gebid het en watter Bybeltekste jy gelees het nie.”

Ek is ’n NG Moreleta-lidmaat en hulle besluit is vir my hartverskeurend. Wat moet gesê word van die leraars van Moreletapark wat nou besig is om lidmate weg te lok met hulle leiding? Hulle kom natuurlik baie vroom voor oor hoekom hulle dit wil doen en ja, as jy die NG Kerk wil gooi met modder sal jy genoeg kry. Die pad wat Moreleta nou gaan stap is een wat weg is van die Woord van God, een waar hulle baas is oor hulle eie besluite en waar hulle as eie profete optree.

Dit alles vind plaas onder die voorwendsel dat hulle die Nuwe-Testamentiese kerk navolg. Hulle volg egter hulle eie interpretasie van die Woord na. Die kerk se lidmaatskap het gedaal in die afgelope twee dekades, hulle sendingbetrokkenheid het drasties afgeneem en hulle het belê in gebou op gebou. Die gemeente se eredienste word maar karig bygewoon en die inkomste daal van maand tot maand. Sendelinge word afgedank of hulle bydrae word hewig verminder. Is dit die soort kerk wie se besluite ek sal vertrou? Gaan Moreleta finansieel baatvind deur hulle besluit sodat hulle kan doen wat hulle wil? Hoeveel lidmate het gevas oor die besluit of was dit net die leraars en die kerkraad?

Klomp vrae wat ek as lidmaat het.