Gemeentes van die toekoms: Waar gaan ons leraars vandaan kom?

Noem dit die Grys Gevaar of noem dit ­Jaar-mageddon: Teen 2028 sal ongeveer 46% van NG leraars by of verby die verpligte aftree-ouderdom van 65 wees.* Dit gaan ’n magdom beskikbare poste beteken. Óf dit gaan ’n nuwe speelveld skep waar poste saamgevoeg of anders gestruktureer gaan word. JEANETTE CLARK doen verslag.


In 1974 het meer as 350 000 jongmense in Suid-Afrika die landswye saamtrekke van die Jeug-tot-Jeug­Aksie bygewoon. ’n Groep van 64 lede, uit drie lande vanaf al die sinodale streke van die NG Kerk in Suider-Afrika, het deur middel van kursusse in evangelisasie, jeugwerkmetodiek en Bybelstudiemetodes sowat 32 000 jongmense opgelei en bereik.

Die impak van dié aksie was verstommend: die grootste jeug-ingryping deur die NG Kerk nóg. Data wat deur die Algemene Steunspan van die Algemene Sinode (AS) verskaf is, toon hoe die getalle van proponente wat tussen 1978 en 1984 in die kerk gelegitimeer is, die hoogte inskiet. Honderde jongmense het jaarliks vir teologiese opleiding begin aanmeld direk ná ’74. Waar ’n gemiddelde getal vir legitimasie voor dié keerpunt tussen 30 en 50 was, draai die totaal vir 1979 by 112, 1980 staan op 128 en 1981 (sewe jaar ná Jeug-tot-Jeug) bereik die verstommende piek van 180 legitimasies.

Nou, amper 40 jaar later, bevind die NG Kerk homself op die plek waar hierdie groot gros predikante (dié wat steeds in die bediening staan), in die volgende dekade deur die kerkordelike verpligte aftree-ouderdom van 65 genoop gaan word om van die kansel na die kerkbank toe te skuif wanneer hulle die tuig neerlê.

Ontleding van leraarpensioenfonds-data, asook syfers vanaf die Algemene Sinode verkry, wys dat daar sowat 450 le­raars is vir wie vroeë aftrede op aanvraag met ander woorde reeds moontlik is.

“Dit is inderdaad ’n kommerpunt,” sê ds Clem Marais, algemene sekretaris van die NG Kerk in Namibië. In dié sinodale streek staan die persentasie leraars bó 55 op die oomblik op 53%. Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk in Suid-Afrika, beaam die kommer. “Daarom is daar ook op hierdie stadium druk dat die Algemene Sinode van Oktober hierdie jaar die aftree-ouderdom met twee jaar moet verhoog na 67 toe,” sê hy.

Buiten ’n verouderende werkmag verloor die kerk ook jaarliks leraars aan ’n verskeidenheid ander redes, soos die afname van 41% toon wat tussen 2018 en 2019 aangeteken is deur die Jaarboek. Teen­oor die aantal leraars wat in 2009 in die Jaarboek aangeteken is, is die huidi­ge totaal 200 minder op sowat 1 400.

Waar is die jonges? Pensioenfondsdata van drie van die pensioenfondse wys die gemiddelde persentasie leraars jonger as 35 op ongeveer 19%. ’n Studie van die afgelope vyf jaar se proponente toon ’n gemiddeld van sowat 35 gelegitimeerdes wat jaarliks weer die beroeps­leer van onder aanvul. Daar is wel net sowat 55% van dié gelegitimeerdes tans voltyds in ’n betrekking by ’n gemeente – hetsy as predikant of proponent of in ’n vastetermynkontrak.

Of die aftree-ouderdom verhoog sal word, word nou reeds in kommissies en werkgroepe deurgetrap en sal verdere aandag vanaf 6 tot 11 Oktober in Boksburg by die Algemene Sinode-sitting geniet. Die argumente op die tafel strek van kommer dat ’n latere aftree-ouderdom die pad verder vir nuwe bloed in leiersposisies van gemeentes sal stuit, tot planne wat nou reeds gemaak moet word om kerke in die toekoms by te staan om staande te bly ten tye van die Groot Aftree.

’n Navorsingstuk deur Liezel Alsemgeest, prof Kobus Schoeman en dr Theo Swart, wat in 2016 in die Stellenbosch Theological Journal gepubliseer is, skets die opinies en vrese van die ouer leraars wat bekommerd is oor die huidige verpligte aftree-ouderdom.

*Hierdie persentasie is gegrond op data wat ontleed is vir die totale ouderdomsverspreiding van predikante in Suid-Afrika, soos verkry vanaf al vier pensioenfondse (insluitend Namibië). Die persentasie vir predikante wat lede van pensioenfondse is bó 55 val tussen 44% en 53%, afhangede van die spesifieke fonds. Ander data wat gebruik is vir die artikel is verkry vanaf die Algemene Steunspan vir die Algemene Sinode wat inligting rondom legitimasies en huidige bedieningsstatus vir die NG Kerk toon.

Byna 60% van die respondente (147 uit ’n poel van 309 wat geïdentifiseer is as predikante wat in die vyf jaar vanaf die studiedatum gaan aftree) het aangedui dat hulle nie in hulle gemeentes sal wil aanbly ná aftrede nie, maar dat byna die helfte (46,2%) graag sal wil aanhou werk in ’n deeltydse predikantspos. Die redes wat aangedui word, is meestal finansieel.

“Van die dominees se kant af is baie bekommerd oor hulle finansiële posisie,” sê Claassen. “Sedert Nenegate het die markte waarin pensioenfondse belê is, nie so goed gedoen nie. En mense leef langer.”

Hoe dit ook al sy, rolspelers in die NG Kerk is dit eens dat oplossings nou reeds in plek gestel moet word om seker te maak dat bestaande en nuwe gemeentes oor die menslike hulpbronne gaan beskik om in die toekoms relevant en volhoubaar te kan funksioneer.

Een só ’n oplossing is die voorstelle rondom kerkordelike en bedienings­aanpassings wat al vir twee dekades debatteer en oordink word.

In kort is die voorstel vir vier vlakke van teologiese opleiding om verskillende tipes ampsdraers vir gemeentes voor te berei.

Die eerste vlak is vir bedienaars: ou­der­linge en diakens wat goedgekeurde bedieningsopleiding ontvang in ’n spe­sifieke area van bediening.

Die tweede vlak is vir standplaas­le­raars met spesifieke bevoegdheid waar leraars opleiding ontvang vir ’n ­spesifieke missionale konteks (byvoorbeeld le­raars vir inheemse bedienings).

Derdens is die vlak van diensleraars, wat gelegitimeer kan word met ’n spesifieke opdrag ooreenkomstig die terrein van hulle opleiding, byvoorbeeld jeug-en-familie-bediening.

Die laaste vlak vir leraars word in twee verdeel. Eerstens is daar die verlengde baan van opleiding vir studente wat alreeds ’n B-graad het en wat as tweede loopbaan predikantsposte wil inneem. En uiteindelik is daar die voltydse opleiding van leraars soos dit tans daar uitsien.

Hierdie diversiteit in opleiding kan as teenvoeter dien vir die ontwrigting wat die veranderende landskap van indiensneming en beskikbare predikante in die toekoms vir kerke kan inhou.

Ds Clem Marais is oortuig dat die heil van die NG Kerk in Namibië in ­hierdie meervlakkige opleidingsmodel lê. Namibië het alreeds twee opleidings­instellings in die land wat ouderlinge toerus (wat inpas in die bedienaars­ka­te­gorie soos hierbo uiteengesit). “Die Na­mibiese moderamen het klaar gesê hul­le gaan dit (die opleiding vanaf hierdie instellings) as voldoende aanvaar vir gemeentebedienaars,” sê hy. “Ons het ook sterk insette gelewer in die gestan­daardiseerde kurrikulum vir gemeente­bedienaars wat vir die Hugenote Kollege se Hugenote Bybelinstituut in Suid-Afrika gefinaliseer is.”

“Natuurlik weet niemand presies hoe die toekoms gaan uitspeel nie, maar die diversiteit van bane (vlakke van opleiding) is juis ontwikkel om die verande­rende landskap te kan hanteer,” sê dr Frederick Marais, predikant in Sinodale Diens vir Kerklike Opleiding in die Wes-Kaap aan die Teologiese Fakulteit van Stellenbosch.

Die Algemene Sinode sal in Oktober die kerkorderlike veranderinge moet goedkeur om die diensleraar-oplei­dings­­vlak moontlik te maak, maar dr Marais sê daar het reeds sowat 40 studente by die kuratorium in Stellenbosch aan­ge­meld om van die nuwe veel­vlak­­kige op­lei­dingsmoontlikhede gebruik te maak. ’n Span van die Algemene Kuratorium werk nou aan die laaste vereis­tes (soos voorgestelde postestrukture) vir goedkeuring by die AS later vanjaar.

Wat voltyds-opgeleide predikante be­tref dink Claassen nie daar is genoeg jong leraars wat tans uit die drie fa­kul­teite (Stellenbosch, Bloemfontein en Pretoria) kom om die gaping te vul wat in die volgende tien tot 15 jaar gaan ontstaan nie.

Soos wat die groot klasse van die Jeug-tot-Jeug-Aksie nou begin klaarmaak gaan al hoe meer poste beskikbaar wees. Die amalgamering van gemeentes kan net tot op ’n punt hierdie impak versag. Al hoe meer, sê Claassen, kan jy sien hoe jong gelegitimeerdes vinniger geholpe raak ná hulle klaar studeer het.

“Ons vermoed dat daardie tendens nou sal optel en die vraag na predikante al hoe groter en groter sal raak,” sê hy.

Die realiteit is dat baie gemeentes nie noodwendig ’n voltydse predikant in die toekoms kan bekostig nie. Wanneer hulle huidige leraar dus aftree (hetsy op 65 of dalk ’n raps later), sal hierdie gemeentes oor hulle toekoms moet besin.

Dr Marais glo die veelvlakkige opleidingsaanbod skep die moontlikheid vir ’n nuwe soort kerk in die toekoms.

“Jy maak nie meer ’n gemeente toe omdat jy nie ’n dominee kan bekostig nie, want dit kan tog nie die essensie van die gemeente wees nie,” sê hy. Sy gemeente van die toekoms is onder andere een wat op ’n minimale begroting sou kon funksioneer. Daar hoef nie ’n pastorie te wees nie, daar hoef nie ’n voltydse predikant te wees nie en daar hoef beslis nie ’n kerkgebou te wees nie.

Hy glo dit is inderdaad ’n geleentheid vir die missionale aard van die kerk om duideliker gestalte te vind in en selfs buite Suid-Afrika.

“Nou kan jy skielik bediening op plek­ke neersit wat jy in die verlede nie kon droom om te doen nie,” sê Marais.

Gemeente van die toekoms?

’n Landelike gemeente ervaar ’n skie­like, intense droogte. Weens die impak op die gemeentelede se inkomste­vlakke word dit onmoontlik om die predikant (wat pas afgetree het) te vervang. Die gemeenskap is wel jonk, dinamies en meelewend in hulle ge­loof en wil nie hê die gemeente moet toemaak nie. Hulle het oor die afgelo­pe twee jaar ’n gemeentelid, wat oor ’n B-graad beskik, as ’n twee­de-loopbaan leraar in die NG Kerk laat oplei. Sy kan in die pos van tentmaker baie van die werk van die vorige predikant behartig. Twee be­die­naars kan ook deur die ring bevestig word nadat ’n gemeen­te­lid met ’n passie vir pastoraat en ’n ander jong man met ’n passie vir ere­diens­te opleiding by Hugenote Kollege ont­vang het. Die gemeente sal voortaan met hierdie kernspan van drie selfs meer dinamies kan optree en groei. Die gemeente het ook hulle trekarbeider-Bybelskool benut om ’n stand­plaas­leraar vir die Xhosa-gemeenskap van­waar die boer­derye se seisoenale werkers afkomstig is, op te lei om die gemeente se ondersteuning daar te versterk.

Waar trek die NG Kerk met die opleidingsplanne?

In 2013, vyftien jaar ná ’n verslag in 1998 deur die Algemene Sinode ontvang is oor die verbreding van ampte, aanvaar die AS die Raamwerk vir Missionale Ekklesiologie wat die pad baan vir hierdie ampsverbreding. In 2018 word die Raamwerk vir Missionale Bedieningsontwikkeling ver­fyn en deur die Moderamen van die Algemene Sinode (ASM) aanvaar. Die kerkordelike wysigings wat nodig is, word sedert­dien vir die Oktober-sinode voorberei.

Die raamwerk vir Missionale Bedie­ningsontwikkeling is so ontwikkel dat die vier vlakke op mekaar bou. In die raamwerk word dit as volg uit­eengesit: “Die ontwikkeling van ge­roepenes is van so ’n aard dat ge­roepenes kan artikuleer van een vlak na ’n volgende vlak. Die konsep waarmee nou gewerk word, is dat ontwikkeling van baan 1 na baan 5 moontlik is met erkenning van voorafgaande leer of die sg RPL (Recognition of prior learning).” ’n Gestandaardiseer­de RPL sal ontwikkel word wat deur die Algemene Kuratorium goedgekeur sal word.