Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Van toe deure na oop vensters

Van Wanhoop na hoop (Leiersgids en gespreksgids) deur Gerrie Doyer en medewerkers
Uitgewer: Bybel-Media, 2018
Resensent: Rethie van Niekerk


Van wanhoop na hoop is een van die NG gemeente Witrivier se 40-dae-veldtogte, in vennootskap met Bybel-Media. Hierdie gids vir kleingroepe en stil­tetyd “wil jou help om jou uitkyk op die lewe na die opgestane Christus te verskuif, om deur sy oë na jouself en die wêreld rondom jou te kyk, en om God dan toe te laat om hierdie wêreld deur jou te verander.” Dit is ’n heerlike boek wat ek met die deurlees sommer dadelik in my eie stiltetyd wou begin gebruik, om dieper en langer oor die gedagtes te reflekteer.

Die kleingroepgesprekke slaag goed daarin om nie net met die deelnemers se kop te praat nie, maar om ook hulle emosies by die gesprek te betrek. Daar is deurlopend ’n uitste­kende, praktiese konneksie met die leser se konteks. ’n Mens wonder soms of die antwoorde wat in die leiersgids verskaf word, nie deur sommige leiers gebruik gaan word om die gesprek te beperk, asof net die antwoorde in die boek die regte antwoorde sou wees nie. Aan die ander kant bied dit soms sulke kosbare insigte, dat ’n mens dit beslis nie wil verloor nie!

Ses temas word behandel: Van vrees na vrede; van toe deure na oop vensters; van uitgestoot na ingesluit; lof in gebrokenheid; vyande as vreemde vriende en van onvergenoegdheid na tevredenheid. Die verbintenis tussen hierdie temas en die oorhoofse tema van hoop is nie altyd duidelik nie. Die boek is egter deel van ’n groter proses met preke en ’n lied en toerus­ting vir groepleiers. Op Bybel-Media se webtuiste is daar verdere inligting en ’n video-inleiding vir elke sessie. Wanneer hierdie bron saam met die leiersgids (en gespreksgids) gebruik word, word die verbintenis tussen die temas en die tema van hoop duidelik. Deel van die aanlynbronne is ook skyfies, ’n kinderreeks en ’n “hoop-oorsig” wat jou sal help ontdek waar en hoe jy nog meer in God se genade kan rus.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top