Humor se slaankrag en trefkrag

Daar word toenemend deur Nuwe-Testamentici daarmee re­ke­­ning gehou dat die Evangelies deur die meerderheid van die eerste ge­lowiges eerder gehoor is, as wat hulle dit self sou gelees het. Om die rede is die wyse waarop dié verhale geskryf is beïnvloed deur die wete dat dit voor­gelees sou word. So is een van die belangrike vereistes vir die kommunikasie met ’n gehoor dat hulle aandag deurgaans behou moet word.

Een van die doeltreffendste retoriese tegnieke, wat deur antieke skrywers hiervoor benut is, is humor. Humor, wat daarin slaag om mense te laat lag, veroorsaak dat hulle meer ontvanklik is vir oortuiging deur ’n spreker as wat hulle andersins sou wees. Dit is veral die geval waar mense as ’n groep saam na ’n teks luister. So reken navorsers dat men­se tot so veel as 30 keer meer geneig is om te lag as hulle deel van ’n gehoor is, as wanneer hulle op hulle eie is.

In die bestudering van antieke teks­te is die probleem egter dat ons nie presies weet wat vir antieke mense humoristies was nie. Dit wil egter voorkom asof die elemente van humor universeel is. So is een element dat daar ’n teenstrydigheid tussen twee storielyne moet wees. So kan daar ’n teenstrydigheid ontstaan tussen wat die karakters in ’n storie glo en weet, teen­oor wat hulle gehoor weet. Hiervan is die gesprek tussen Nikodemus en Jesus in Johannes 3 ’n treffende voorbeeld volgens Michael Whitenton. Volgens hom word Nikodemus in die hoofstuk voorgestel as ’n gerekende lid van die Joodse raad en as ’n geleerde Skrifge­leerde (Joh 3:1, 10). Volgens Jesus is Nikodemus niks minder as dié leermeester van die hele Israel nie, en tog besef die gehoor dat juis hy telkens Jesus doodgewoon misverstaan. Die misverstande word veroorsaak deurdat Jesus telkens dubbelsinnige begrippe soos “gees”, “water”, “gebore” en “op­nuut” gebruik. Elkeen van die begrippe word deur Nikodemus misverstaan! Daar is dus ’n skerp kontras tussen hoe hy be­kendgestel word deur Jesus en hoe hy deur Johannes uitgebeeld word. Die een misverstand na die ander sou waarskynlik die gehoor, wat geluister het na die voorlesing van Johannes in die byeenkomste van die eerste Christene, laat skaterlag het. Hulle gelag sou hulle daaraan verbind om die alternatiewe verstaan van die onderskeie begrippe as Nikodemus s’n as waar te aanvaar. So sou hulle lag-lag die Evangelie van Johannes aanneem.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.