Kerk hou hulle lyf teater vir goeie doel

“Elkeen van ons het soms nodig om nuut te begin,” sê ds Hennie Pienaar, leraar van Dalpark Kaléo in Brakpan.

Daarom het hy onlangs ’n musiekblyspel met dié tema geskryf wat die gemeente graag wil gebruik om “’n verskil in hulle gemeenskap te maak”.

“Met die blyspel wil ons graag terugploeg in die gemeenskap,” het Hennie gesê. “Die volle wins van die projek word vir die gemeente se skoleprojek gebruik, waar ons op weeklikse basis vir minderbevoorregte laerskoolleerders ’n toebroodjie (en meer) voorsien,” vertel hy.

Hennie verduidelik kortliks waaroor die verhaal gaan: “Die Skuilte is ’n eietydse verhaal wat tegelyk in Brakpan en ’n fiktiewe dorpie met die naam ‘Mooiha­wens’ afspeel. In die blyspel word die verhoog en multimedia gebruik om die storielyn oor te dra. Die verhaal gaan oor ’n Oos-Randse meisie, met die naam Lila. Sy probeer om haar verlede agter te laat en ’n nuwe begin te maak. In ‘Mooihawens’ raak sy verlief op die plekkie en sy mense. Die ‘Veilige Skuilte kerkie’ bied vir haar ’n veilige heenkome. Net as sy dink dat sy haar voete weer vind, haal haar verlede, waarvan sy af wegvlug, haar in.”

Kunstenaar Stella, oftewel Christelle Combrink, en haar musiekgroep Duis: Lig sorg vir die musiek.

Die Skuilte sal 2, 7, 8 en 9 Junie opgevoer word en belangstellendes kan by 011 915 1858 of 083 260 0119 bespreek.