Nuusfotografie word dikwels bloot as dit beskou: foto’s wat ’n visuele beeld ter illustrasie van ’n nuusgebeurtenis verskaf, gewoonlik met die doel om aandag op die spesifieke nuusstorie te vestig. Dit word oor die algemeen nie as ’n vorm van kuns beskou nie – veral ook omdat dit dikwels ’n vlietende oomblik is wat vasgevang word, en omdat nuusfotograwe gewoonlik ’n reeks foto’s van dieselfde gebeure neem en dan eers later besluit watter foto die beste een is om te gebruik.
Tog is dit so dat mense wat in fotografie belangstel en dit as beroep kies, gewoonlik ’n sterk visuele ingesteldheid het en met ’n soort “kunstenaarsoog” na dinge rondom hulle kyk. Die gevolg is nie net dat die gemiddelde nuusfoto van redelik goeie gehalte is nie, maar dat sekere foto’s ook ikoniese status verwerf en inderdaad as kuns beskou kan word.
Talle sulke nuusfoto’s sal gebruik kan word om hierdie punt te staaf. Twee foto’s wat albei ’n diep indruk op my gemaak het, nie net as nuusfoto’s nie, maar ook as kunswerke in eie reg, is die foto van die sterwende Hector Pietersen op 16 Junie 1976 in Soweto, en dié van die gestorwe Mychal Judge op 9 September 2001 in New York.
Hector Pietersen, ’n dertienjarige skoolkind, was die eerste slagoffer van die studenteopstand teen apartheid wat daardie dag in Soweto uitgebreek het. Op die foto geneem deur die persfotograaf Sam Nzima, word hy deur ’n skoolvriend Mbuyisa Makhubo gedra om by mediese noodhulp uit te kom, terwyl sy geskokte suster Antoinette saam hardloop.
Mychal Judge was ’n Katolieke priester en kapelaan van New York se brandweerdepartement wat saam met die brandweermanne op die toneel was direk ná die 9/11-terreuraanslag op die Twin Towers in New York. Soos in die geval van Hector Pietersen, was hy die eerste gesertifiseerde sterfgeval in die skrikwekkende gebeure van daardie dag. In die foto word sy liggaam deur vier noodwerkers en ’n vyfde, burgerlike persoon, welwetende dat hy reeds dood is, op ’n stoel na veiligheid gedra.
Albei hierdie foto’s gee op ’n besonderse wyse uitdrukking aan die menslike tragedie wat deel uitmaak van prosesse wat op die groter wêreldtoneel uitspeel, en herinner ons (op byna evangeliese wyse) dat gewone mense dikwels die slagoffers is van gebeurtenisse waaroor hulle geen beheer het nie. Hector Pietersen was op pad skool toe en nie deel van die georganiseerde protesoptog van skoliere nie, en Mychal Judge was soos soveel ander kere as kapelaan saam met ’n span brandweermanne op pad om ’n noodsituasie te hanteer.
Juis hierdie fokus op die persoonlike vrywaar ons daarvan om in abstrakte terme te dink oor die kragte wat die gang van die geskiedenis bepaal. En dit is altyd weer een van die belangrikste kenmerke van goeie proteskuns: dat dit die patos van die gewoon-menslike uitlig bo die chaos wat dreig om dit te verswelg. Op dié manier daag dit ons uit om die nood van die “geringes” raak te sien en ons te versit teen alles wat die lewe en geluk van gewone mense bedreig.
Wat albei hierdie foto’s verder merkwaardig maak, is dat albei vergelyk kan word met twee geykte motiewe uit die Christelike kunsgeskiedenis: dié van die Pietà en van die sogenaamde Neerhaal van die Kruis. Die Pietà is ’n tradisonele uitbeelding van die gestorwe liggaam van Christus op die skoot van sy moeder Maria, terwyl die Neerhaal op soortgelyke wyse die verwydering van Christus se liggaam van die kruis verbeeld.
Dit was nie met een van bogenoemde foto’s die bedoeling van die fotograwe om uitdrukking te gee aan hierdie motiewe uit die kunstradisie nie. Shannon Mapleton bevestig dit in soveel woorde as hy sê: “It kind of launched my career. It’s been called the modern-day Pieta. … I didn’t really know what it was. So I looked it up. And … I did see a resemblance.”
Op die oog af ’n toevallige ooreenkoms. Maar waarskynlik tog ook ’n aanduiding van hoe sekere motiewe met verloop van tyd argetipiese betekenis kry en op ’n onbewustelike vlak inspeel wanneer ons die werklikheid rondom ons betrag en ’n visuele weergawe daarvan probeer gee.
Juis dit maak van ’n gewone nuusfotograaf ’n begaafde kunstenaar: die vermoë om (onbewustelik) dieper te kyk en (weereens onbewustelik) dieper verbande te lê. En in die proses beelde te skep wat nie net prentjies by die nuus van die dag is nie, maar wat ook die verbeelding van mense aangryp en hulle help om op ’n dieper vlak die komplekse aard van die lewe te verstaan.
Miskien is dit wat ons as gereformeerdes bedoel as ons van “algemene genade” en “algemene openbaring” praat: dat God ook deur die gewone dinge en deur gewone mense met ons kan praat en vir ons kan wys hoe die dinge rondom ons in mekaar steek.
Bou jou kennis
SOWETO-OPSTANDE het in 1976 in dié swart woongebied vlakby Johannesburg plaasgevind. Dit was, naas die Sharpeville-opstande van 1960, een van die belangrikste reële maar ook simboliese opwellings van die swart bewussynsbeweging in Suid-Afrika. Uiteindelik het hierdie opwellings hulle kulminasie in die onderhandelings vanaf 1990 en die oorgang van die “ou” na die “nuwe” Suid-Afrika in 1994 gevind. Die aanleidende oorsaak van die Soweto-opstande was die volhardende standpunt van die destydse adjunk-minister van swart onderwys, dr AP Treurnicht, dat swart leerlinge verpligtend Afrikaans as skoolvak moes neem.
Dit het tot stakings, demonstrasies en uiteindelik geweld op en vanaf 16 Junie 1976 gelei. Die bekende foto van een van die skoolkinders, Hector Petersen, wat deur die polisie doodgeskiet is, het dwarsoor die wêreld opslae gemaak. Later jare is ’n gedenkteken ter ere van Petersen in Soweto opgerig. In die nuwe bedeling in Suid-Afrika is 16 Junie ’n openbare vakansiedag, “Jeugdag”.
- Besoek www.cke.christians.co.za om God, sy Woord, sy kerk, die wêreld, die geskiedenis, jou land, jou geloof en jouself ’n bietjie beter te kan verstaan.