Hoe ons trou, kom ’n lang pad!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die NGK, saamwoon en die huwelik het onlangs weer na ’n debat tydens die Sinode van Wes-Kaapland die nuus gehaal. Reaksie op en die beriggewing oor die debat toon duidelik dat daar baie wanpersepsies bestaan oor wat ’n huwelik is en waar ons manier van trou vandaan kom.

Die NGK het by verskeie geleenthede in die verlede besluite oor die saak geneem. Die besluite van die Algemene Sinodes van 2011 en 2013 gee erkenning aan die feit dat “die huwelik soos ons dit vandag ken die produk van eeue se ontwikkeling is”, maar stel dit dan duidelik: “Die Algemene Sinode is nogtans daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewe in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ’n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as wettige huwelik.”

Hierdie besluite maak dit duidelik dat die huwelik soos ons dit vandag ken nie pasklaar uit die hemel kom nie. Terwyl die beginsel dat ’n huwelik ’n vaste verbintenis tussen ’n man en ’n vrou is, vas staan, het hierdie beginsel deur die eeue in verskillende gebruike ’n kon­krete gestalte gekry.

In Suid-Afrika is die manier van doen grotendeels gebou op die standpunte van die Reformatore. Daarvolgens moes huweliksgebooie onder meer vir drie agtereenvolgende Sondae in die kerk afgelees word (volgens die voorskrif van Calvyn) voordat die huwelik kerklik ingeseën is. Hierdie wetlike vereiste is eers in 1970 met die Wysigings­wet op Huwelike verander. Volgens die Algemene Sinode van 1974 moes die voltrekking van ’n huwelik egter steeds twee weke voor die tyd van die kansel bekendgemaak word.

Die Kerkorde van De Mist het in 1804 bepaal dat die distrikslanddros huwelike bevestig waarna dit kerklik ingeseën kon word. Na beswaar is daar in 1806 besluit dat “ordained ministers” ook as huweliksbevestigers kon optree. Dit het aan predikante ’n juridiese en kerklike rol gegee en het die weg gebaan vir die wyse waarop huwelike vandag deur predikante bevestig kan word.

Die geskiedenis toon duidelik dat daar deur die eeue nooit ’n vaste model was waarvolgens huwelike bevestig is nie. Hoe dit gebeur kom ’n lang pad. Dit is feite wat nie uit die oog verloor mag word nie.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.