Sikloon Idai: Ná die storm

Twee maande ná ’n natuurramp in Mosambiek kerkdakke afgeruk en bome ontwortel het, gaan Leon-Ben Lamprecht op ’n weeklange ‘gemeentebesoek’ van Maputo tot in Beira. Storie en foto’s: Leon-Ben Lamprecht


‘Nou moet ons bou’

Dit is ’n gewone Sondagoggend in Mei in Beira, in sentrale Mo­sam­biek. By die Igreja Reformada em Moçambique-kerk (ook be­kend as die IRM, of dan die Mo­sambiekse gereformeerde kerk) se diens word ge­dans en gesing, soos normaalweg tydens die diens. Jillende vrouestemme klink op; kinders lag.

Maar dit is ’n lag-en-sing-en-dans ten spyte van.

Binne skyn die lig effens blou, soos die sonlig deur die plastiekseile op die dak breek. Dié plastiek is ’n nood­maatreël nadat die kerk se dak grootliks afgeruk is deur sikloon Idai, wat in Maart ’n pad van verwoesting deur Madagaskar, Malawi, Zimbabwe en ver­al Mosambiek gekerf het.

Meer as ’n duisend mense het in die sikloon omgekom, en meer as 2 000 word nog steeds vermis. Die Wêreldbank se vroeë skattings is dat minstens $2 mil­jard se skade deur Idai aangerig is.

Die water van die reën het hier by die IRM in Beira kuithoogte gestaan, en in die kerk se leraar, Alberto Fane, se huis ingestroom.

En die kerk het nog relatief lig daar­van afgekom.

Dit is twee maande sedert Idai as ’n kategorie twee storm (dis later bevorder tot kategorie drie) op 15 Maart Beira met sy volle mag getref het. Dié stad was in die oog van die storm.

Die hawestad, tuiste van sowat 500 000 mense, is verniel, en die impak is nog sigbaar. Al langs Avenida Mateus Sansao Muthemba is daar reuse-gate in die pad. Die verlepte Grande Hotel, met sy 100 plus kamers, staan ook hier. Dit wat eens ’n luukse kuierplek vir die rykes was, is deesdae ’n vertikale krotbuurt wat tussen 1 000 en 3 000 mense huisves (afhangend van wie jy glo) wat geen ander heenkome het nie.

Hoewel dié hotel blootgestel was aan Idai se winde wat by die 200 km/h gedraai het, en die inwoners die meeste van hulle besittings verloor het en steeds gedeel­telik afhanklik is van voed­sel­skenkings om te oorleef, bly hulle nog hier. Soos Fane verduidelik: “Hul­le het nie geld vir huur nie, en hier bly hulle minstens verniet.”

Neffens Avenida das FPLM, ook teen die strandfront, lê bome nog plek-plek op die sypaadjie en die strand gestrooi, asof ’n reusetuinier dit soos onkruid uitgeruk het.

Die Katolieke Kerk in die toeriste­streek Macuti, Sagrado Coração de Jesus, se dak is totaal deur die winde afgeskil, en die helfte van die mure staan nie meer nie.

Niemand is hier ontsien nie. In die relatief welaf woonbuurt van Marora is daar nou nog huise wat dakloos is. Ross Muir, eienaar van Biques-restaurant, reg teen die strand hier, vertel vanuit die restaurant se kroeg, waar foto’s van Joel Stransky se Wêreldbekerwen-skepskop teen die muur hang, dat die wind so gewaai het, dat jy nie kon slaap nie.

“Ek is al deur drie of vier siklone, maar dié een was so sterk … Jy het net die wind hoor huil, bome hoor losskeur en hoe dakke afgeruk word.”

Dit is geen wonder nie dat die VN in Maart aan die New York Times dié storm as een van die ergste weerverwante rampe ooit in die Suidelike Half­rond beskryf het nie.

Ross vertel sommige van sy vriende is in sak en as. “Hierdie is welaf mense, wat alles verloor het waarvoor hulle die laaste 12 jaar gewerk het. Ek wil nie eens dink wat die impak op die platteland was nie.”

En die impak is ontsaglik op die meer afgeleë dele van die land; dis byna ’n oefening in onmoontlikheid om dit te probeer beskryf. Dit is asof die skade abstrak raak.

Die EN6-pad tussen Beira en Inchope, sowat 130 km wes, is plek-plek verspoel (en van die brûe is heeltemal wegge­spoel). Jy staan vir meer as ’n uur by ’n stop-en-ry-punt voor jy kan deurry.

By die dorpie Buzi kan jy die vloedlyne in bruin strepe teen van die huise sien – só hoog het die water gestaan. Op ’n staptog deur die dorpie, vertel van die plaaslike inwoners aan ds Gabriel Chibotha, moderator van die IRM in die Novo-streek, dat hulle in ’n alkoholfabriek se toring se tweede en derde verdiepings moes skuil teen die waters. Hulle moes vandaar met bote karwei word.

In Guara-Guara, sowat ’n uur per motorfiets wes van Buzi, is ’n massiewe vlugtelingkamp op die been gebring. Mense van Buzi is hierheen gebring, omdat die vrese bestaan dat toekoms­tige vloede weer die dorp op sy knieë gaan bring.

Hier vind jy vernietigde mielielande en weggespoelde rysvelde. ’n Nood­wer­ker van Oxfam vertel een van die groot probleme hier is dat die plotte wat vir Idai-geraaktes uitgepen word, nie groot genoeg is om weer te plant vir ’n oes nie. “Nou deel die regering nog rys en olie en bone uit, maar as gevolg van die verlore oes, gaan hierdie ’n langtermyn-pro­bleem wees.”

Net buite die dorpie Bandua, sowat 35 km suidwes van Buzi, vertel Mama Ruthi Jacobe, ’n ouderling in die plaaslike IRM-gemeente, dat sy en sewe van haar kinders en kleinkinders vir vier dae in ’n boom by die plaaslike skool teen die vloedwaters moes skuil.

Sy het op Saterdagaand, 16 Maart, om 23:00 die water hoor kom, en haar gesin gegryp en gevlug. Hulle het geen water of kos in hierdie tyd gehad nie. “Die moeilikste was om almal wakker te hou in die boom, want jy was bang hulle val in die water en verdrink.” Ander mense het komberse of capulanas (’n tipe Mosambiekse sarong) by hulle gehad om hulle aan die bome mee vas te bind, maar nie Mama Ruthi nie.

En steeds was dit elders erger: Op die skool langs hulle boom se dak moes 200 mense teen die vloed en winde skuil. Ook hier het die waters ’n bruin lyn gelos waar dit aan die nok van die dak begin lek het.

Mark Harper, ’n sendeling van Pro Vision, het in Bandua saam met sy vrou Lesley en Johan van Helsdingen (van Africa for Christ Ministries) kom uit­help met onder meer waterfiltrering, om weduwees, weeskinders en ou men­se by te staan met huise en om te help kos voorsien. Die krag is al maande lank hier af, en hulle kragopwekker word ook deur die dorp gebruik.

“Die ding wat my erg vang, is dat hier­die mense brandarm was voor hierdie sikloon getref het. Hier is ’n soort spi­rituele onderdrukking in hierdie plek wat my onderkry.

“Maar weet jy, die Here is goed. Ons plan was om 21 families hier te kom help. Op die ou end het ons al 600 fami­lies kon bystaan. En nog kos kom net, en nog kos kom net.”

Nova Sofala, sowat 40 km oos van Bandua teen die see, het nie werklike vloedskade nie, maar die wind het ge­tier: palmbome (dié wat nog staan) se blare wys almal in dieselfde westelike rigting, soos wat die wind dit geruk het. Modderhutte is hier onseremonieel plat­­gewaai, en kragpale gebreek soos tan­destokkies. Selfs die magtige kre­me­tartbome is ontwortel en omgestoot.

“Hier is chaos, maar dis ’n geordende chaos,” sê Willem Nel, ’n sendeling van Volta A Biblia-Bybelskool. Hy het van sy studente hierheen gebring om die gemeenskap hier te kom dien – met van evangelisasie tot kosverspreiding. “Ons het nie baie in ons hande nie, maar ons kan die kerk kom bemoedig.”

Die plaaslike pastoor van die Nova Sofala, Mandava Antonio, het sy siek ma in Buzi gaan besoek toe Idai tref. Hy en sy gesin is toe vir drie dae in ’n boom vasgekeer, vertel Willem. “En toe hy te­rugkom, moes hy sien dat sy huis omgewaai het. Hy is maar agt maande hier! Maar weet jy die gemeente het al hulle besittings betyds uitgedra. Hier is ’n verskriklike mooi gees.”

Hy gee toe dat kossekuriteit ’n bekommernis is, maar hy “dink die grootste krisis is oor”. “Maar hier is baie werk. En dit is baie moeilik om te sê, want die omvang van die skade is so groot. ’n Mens kyk nie na hoe kry jy dit by hoe dit was nie, maar jy kyk na hoe bemoedig jy mense om weer kans te sien om aan te gaan,” gaan hy voort.

Een van die groot behoeftes, sê Willem, is evangelisasie. “Die kerk staan, maar ons is bekommerd oor die evangelie, want die hart van die evangelie staan nog nie.” Maar, sê hy, so ’n ramp het verrassende gevolge: “Dis die inte­res­sante ding, vir Europeërs bevraag­teken hulle hulle geloof, maar vir Afrika-ouens versterk dit hulle geloof … Hulle sê God het ons net kom wys hoe groot hy is.”

Llewellyn Oliver, leraar van die Lewende Gemeente Maputo, was deel van die span wat die aanvanklike nood­lenigingswerk in die rampgeteisterde gebied kom doen het. Hy het ook gehelp om die sogenaamde IRM Project Nova Vida (Projek Nuwe Lewe) te skep.

Dié projek is ’n hulpverleningsprogram juis vir die impak van Idai. Nova Vida is gebore na een van die gemeen­te­lede by Buzi in die nadraai van die vloed gesê het dat hulle nou ’n nuwe lewe op die ou een moet bou. “En dit was vir my so mooi,” sê Llewellyn.

Meer as 900 families van die IRM is deur die ramp geraak.

“Jy weet, in hierdie tyd van #morelexit en die hele gay-debat, is hierdie ’n goeienuus-storie. Ons het reeds R380 000 ingesamel. Dit is ’n goeie storie van hoe die kerk kan saamstaan!” gaan hy voort.

Die onmiddellike behoefte was aan kos. “Jy kan niks vir ’n honger mens sê nie. En in Matteus 25 sê Jesus self Hy was honger.” Kos is waarskynlik vir sowat ses maande nodig, totdat die boer­derye weer op die been is. Klere is ook belangrik, en dan om kerke te herbou, want in Mosambiek dien die kerkgeboue ook as gemeenskapsentra.

Llewellyn skat hulle het nog so R250 000 nodig om sowat 20 kerke te herbou. Hulle wil ook saad aankoop, sodat gewasse weer aangeplant kan word.

En dan is die behoefte aan gemeentes om spanne te stuur om te kom help. “Ons het hande nodig. Kom slaan die spykers in, en kom vertel die storie van die evangelie. Wat hierdie mense hier nodig het, is die hoop wat met die evangelie kom.

“As ons net kos en klere gee, kan ons net sowel die VN wees. Ons moet Christus se liefde kom wys.”

  • Leon-Ben Lamprecht is ’n vryskut­joernalis van Wellington.

Addisionele bronne: Netwerk24; Maroela Media; Wikipedia; Atlas Obscura; Wêreldbank.

Bankbesonderhede indien u tot die noodfonds wil bydra:

Banknaam: Standard Bank
Rekeninghouer: Igreja Reformada em Moçambique
Rekeningnommer: 03 289 1776
Takkode: 051001
Verwysing: Idai relief
Stuur bewys van betaling aan: pastor@vivamaputo.org

Kontak Llewellyn by pastor@vivamaputo.org as jy en jou gemeente betrokke wil raak.


‘Ons moet die hoop wees’

’n Groep sendelinge het byna 20 jaar gelede informeel begin saamstaan om ’n verskil te maak wanneer natuurrampe Mosambiek tref. Nou is dit weer sulke tyd.


Llewellyn Oliver, Lewende Gemeente, Maputo

Hy is ’n opgeleide predikant wat betrokke was by onder meer jeugbedie­ning, voor hy by die Lewende Gemeente in Maputo kom werk het. Dié gemeente bedien grootliks expats in dié stad, maar Llewellyn doen ook sendingwerk, en was al so wyd as Korea daarmee.

Die Lewende Gemeente is verbonde aan die Igreja Reformada em Mozambique (IRM), of dan die gereformeerde kerke van Mosambiek. Dis in 1908 geplant as uitvloeisel van die NG Kerk, vertel Llewellyn, maar staan nou op sy eie bene. Die twee kerke het wel nog ’n noue verhouding.

“Ek is ook via die gemeente betrokke by ’n kinderhuis, maar omdat ek hier ’n pastoor is, het ek ook ’n hand daarin om gemeentes hier in Mosambiek by te staan,” sê hy.

“Ek dink die grootste vervulling (van sendingwerk) is wanneer jy sien dat die werk wat jy doen ’n verskil maak in die gemeenskap se lewe, en jy sien ’n nuwe terugkeer na die evangelie, en ’n geestelike oplewing.

“Ek sê dit maar altyd vir mense, een van die grootste uitdagings bly maar die taal. Selfs al verstaan ons Portugees, is dit die meeste mense hier se tweede of derde taal.”

Hy voel die rol van ’n sendeling in die lig van ’n krisis soos Idai is om ’n nuwe lig op die evangelie te bring.

“En deel van die evangelie is tog om met mekaar te praat. En ek dink dis die verskil (tussen sendelinge en gewone nood­lenigingswerkers): ons bring die evan­gelie, en ons bring die hoop wat daar is in Christus vir mekaar.”

Erica Blickens, Africa for Christ, Chicorôa

Erica, ’n blonde Amerikaner van New Jersey, is die laaste ses jaar betrokke by sendingwerk in Mosambiek. Sy is verbonde aan Africa for Christ, wie se fokus is om volhoubare inheemse kerke te plant, evangelisasie en leierskapsontwikkeling. Die kerk waaraan sy verbonde is, is in 2015 geplant.

Om evangelisasie te doen is vervullend, sê sy, maar nie sonder uitdagings nie.

“Mense in die sekulêre wêreld sê altyd ‘as ek maar net in sendingwerk was, dan het ek meer vervuld gevoel’. Maar dit is nie so nie. Jy raak ook maar moedeloos en neerslagtig, en jy voel ook soms wat maak ek met my lewe?

“Op ’n sekere vlak is dit nog steeds ’n werk. Dit word jou lewe. En befondsing is maar altyd ’n kwessie. Maar weet jy, God is genadig en hy verskaf wat ons nodig het.”

Een van die grootste uitdagings is verhoudings. Sy werk nou saam met Wynand Jordaan, en hulle woon albei op die kerk se gronde. “As ek en hy vassit, is daar niemand om by te gaan afpak nie.

“Maar dit (verhoudings) is juis die hart van sendelingskap. En die Here is goed vir ons.”

Sy voorsien nie dat sy ooit weer permanent sal teruggaan Amerika toe, of “normale Europa” nie – “my hart wil in die sendingveld wees”. Maar, erken sy, as hulle Nelspruit (Mbombela) toe moet gaan vir een of ander rede, gaan fliek sy en Wynand graag, of gaan eet hulle in die Spur.

Johan van Helsdingen, Africa for Christ, Xai-Xai

“Ja,” spot Johan oor sy van, “maar ek is besig met die hemel se dinge.”

By Africa for Christ het hulle al 13 kerke in die Gaza-provinsie geplant, en een in Inhambane, tesame met drie sendingstasies. Hy en Mark Harper is die stigterslede van die Mozambique Relief Coalition (MRC).

Johan, met sy bril is leier hier, saam met sy vrou Lana. Hulle is gebaseer in Xai-Xai, en bly in ’n huis wat hy met sy eie hande gebou het.

Want ja, sendelinge is op hulle eie, en moet alles kan doen. “Ek moes al van babas vang tot brandwonde behandel. Ek sê altyd ek het ’n engel wat ’n welder is, en ’n engel wat ’n mechanic is …”

Johan was eers ’n besigheidsman, en het toe by ’n sendingkonferensie gevoel die Here wil hom sendingveld toe stuur. “Ek bid toe, ‘alles wat my weghou van die sendingveld, vat dit weg’. En die Here was getrou.” Sy besigheidsvennoot het hom gelos, en hy kon nie by al sy kliënte uitkom nie.

Sy besigheid het ondergegaan, hy het alles verkoop en met die geld is hy maande later Madagaskar toe, waar hy onder meer ’n weeshuis gebou het. Toe sy geld opraak, is hy na ’n sendingkursus.

Daar ontmoet hy vir Lana, en toe word hulle rondom 1995 Mosambiek toe gestuur, om ander sendelinge by te staan wat na die burgeroorlog ondergronds uitgekom het.

En hier is hulle nog steeds, want “hier is ’n geestelike hongerte in die land”.

Die vervullendste deel van sendeling-wees is om mense te sien groei, sê hy. “Van ons jeug, wat ons mee werk, van hulle vyf of ses is, is nou in hulle 30s, en hulle begin hulle eie ministries.”

Die uitdagings? “Dit is altyd, en dis jammer om te sê, finansieel.” Hulle het geen kerke wat hulle ondersteun nie; fondse kom van besigheidslui.

Maar hy het geen spyt nie. Sê Johan: “My grootste ideaal is as die Here my kom haal, moet ek besig mees met sy werk.”

Mark en Lesley Harper, Pro Vision, Xai-Xai

Die Harpers het in 1995 in Mo­sam­biek begin onder Youth for Christ se vaandel, maar het in 2014 by Pro Vision ingeval, ’n mentorskaporganisasie.

“Ons het gevoel die Here wil hê ons moet in nederigheid by die kruis kniel, sodat die volgende generasie op ons ­skouers kan staan om oor te vat,” vertel Mark.

Toe Mark voel die Here roep hom om sendingwerk te doen, was hy eers huiwerig. “Ek het gedink, is U ernstig? Ek gaan alles verkeerd doen!”

Die ding wat sendingwerk vir hom maklik én moeilik maak, is die mense. “Daar is altyd meer mense met nood as wat jy kan help. Veral in ’n situasie soos hierdie sikloon (Idai).” ’n Mens moet onthou, sê hy, dat die mense wat hulle kom help reeds brandarm was voor die sikloon sy pad van verwoesting gesaai het.

“In die bediening self dink ek daar is ’n rede waarom Jesus destyds die mense in pare uitgestuur het, want dit kan nogal eensaam raak, tensy jy in ’n span is,” gaan hy voort. “Verwagtinge van sowel die mense wat skenk as ontvang kan soms onrealisties wees, en dan word jy in die middel vasgevang.

“Op die ou end moet jy onthou hoekom jy hier is, vir die Heilige Gees luister, en nie probeer om mense gelukkig te hou nie.”

Sy vrou Lesley, of sommer net Les, eggo dit. “In sommige opsigte kan dit baie isolerend wees om ’n sendeling te wees. As jy kerk toe gaan, word jy nie geestelik gevoed nie, want jy is die een wat voor moet staan om te preek.

“Ek het ook daai honger vir aanbidding, en ek is dus mal daaroor as ons terug is in Suid-Afrika om daar te aanbid.”

Maar, sê sy, om te leef in geloof is nie ’n uitdaging nie, dit is ’n avontuur. “Die Here voorsien op die wonderlikste ma­niere. Hy rek soms jou geloof op die won­derlikste maniere.”

Sybil Baloyi, Hlawuleka-skool, Chokwe

Sybil Baloyi is ’n opgeleide verpleegster van Limpopo. “Toe ek in 1994 tot bekering kom, was my dryf groot om vir die Here te gaan werk. Ek het kom help in Mosambiek, en het gehoor die Here wil hê ek moet hiernatoe kom. Maar ek het eers ander groot planne gehad (met haar loopbaan as verpleegster), en ek het mos reeds sen­delinge ondersteun. Eintlik het ek net van die waarheid weggehard­loop.”

En nou amper 25 jaar later bedryf sy ’n privaatskool in Chokwe, wat eers as ’n kleuterskool begin het, en nou uitgebrei het tot ’n laerskool. Sy het onlangs aansoek gedoen vir ’n lisensie om ook ’n hoërskool te bedryf.

“Ons spesialiteite is die evangelie en Engels.”

Sybil het ook al meer as 100 kinder­klubs gevestig (wat ons in Suid-Afrika met kinderkrans sou kon vergelyk) waar duisende kinders aan die Woord van God blootgestel word.

Sy meen die grootste uitdaging van sendingwerk is om te weet wat om te doen. “Want soms kan dit oorweldigend wees. Die behoeftes kan so oorwel­di­gend wees.

“Soms doen jy meer hulpverlenings­werk as wat jy die evangelie kan verkondig, en dis maar ’n saak van balans. Dis maar goed om in kontak te bly met die Here om te weet wat om te doen.”

Ja, Idai het verskriklike verwoesting gesaai, maar sy dink elke oggend aan God se genade vir haarself, en dan besef sy “daar is hoop”.

“Christus het gekom om te sterf vir almal se sondes, ook die mense hier. En as iemand dus die Woord kan verkondig en oor Hom kan praat hier … wat in my hart gedoen is, kan in hierdie mense se harte ook gedoen word,” sê sy.

Dis ook die positiewe ding van sen­dingwerk, om te sien hoe die Woord in mense se lewe blom. “Eerder as wat mense na hulleself kyk as nutteloos, besef hulle hulle is God se kinders.”