Bybel-interpretasie in doodloopstraat?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Bernhard Ficker van Somerset-Wes skryf:

In “Hoop in ’n doodloopstraat” skryf dr Tinus van Zyl (Kerkbode, 31 Mei 2019) “wat maak ons as ek die Bybel lees en jy die Bybel lees, maar ons kom by verskillende gevolgtrekkings uit? Wat maak ons as ek deur die Gees gelei word en jy deur die Gees gelei word, maar ons word in verskillende rigtings gelei?”

Laasgenoemde is vir my maklik verklaarbaar: Ons word nie noodwendig deur dieselfde Gees gelei nie. Eersgenoemde het my ook dronkgeslaan, totdat dit aan my verduidelik is dat ’n nuwe geslag liberale teoloë nie die Bybel letterlik lees of noodwendig aanvaar wat daarin staan nie, maar lees dit nou met ’n post-moderne bril waar jy alles kan weg-redeneer, weg-filosofeer of weg-metaforiseer op grond van nuwe insigte en moderne sielkunde.

Dan verwys hy na geskille in Paulus se tyd, soos “Geld die wet van God nog? Moet alle gelowiges die Sabbat heilig hou? Moet alle mans besny word? Kan gelowiges onrein kos eet?”. Die geskille het egter glad nie oor fundamentele Bybelse kwessies gegaan nie. Jesus het immers gesê nie een jota of tittel van die wet sal ooit vergaan nie en die geldigheid van die Tien Gebooie was nooit bevraagteken nie. Daar was ook geen vraagteken oor die geldigheid van die Sabbatdag nie en Christus en die apostels het die Sabbat gereeld geheilig “soos hulle gewoonte was”. Debatskwessies het gegaan oor hoe die Sabbat gehou moet word, maar hier het Christus self die voorbeeld gestel. Besnydenis was ’n hoogs debateerbare kwessie. Hier was die morele wet nie die kwessie nie, maar die seremoniële wet wat met Christus se dood tot ’n einde gekom het en duidelik bevestig is deurdat die tempelgordyn van bo na onder geskeur het. Kos wat aan afgode geoffer is was ’n debatspunt maar nie onrein kos nie want dit was ’n gesondheidsbeginsel.