Glimlagte was betaling by dié Kleinmondfees

By ’n onlangse “Vriendskapsfees” in die Overbergse dorp Kleinmond het al die kerke saamgespan om feesgangers te bederf.

En die sowat 2 000 stukke koek, ’n 1 000 pannekoeke, 800 wors­rolle, klere in die klere­boetiek, drinkgoed, spring­mielies, boeke, 60 kg handgesnyde aartappelskyfies en vele meer was gratis, laat weet dr Ria Burrows, ’n lidmaat van die NG gemeente Kleinmond.

Volgens Ria het een van hulle leraars, dr Chris Malan, die idee van ’n basaar waar alles gratis is by ds Jaco Strydom van Echo gekry. In 2018 het die Kleinmond-gemeente ’n gratis fees vir kinders gehou en vanjaar het die Vriendskapsfees gevolg waar hulle hande met die Kleinmond Fellowship Church, God’s Given Ministries, die VGK en die Gereformeerde Kerk, Huisgemeente en Lakeside Chapel in die gemeenskap hande gevat het.

Chris vertel die doel van die feeste is om brûe te bou tussen verskeie gemeenskappe en om uit te reik na ander.

Hy sê: “Die plesier om rond te dwaal en items te kies sonder enige finansiële verantwoordelikheid was vir talle meer as ’n seëning. Dit was ’n wonderwerk! Mag ons die absolute verwondering en vreugde op Kleinmonders se gesigte vir nog baie jare ervaar.”