Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Grond: Met dié aspek moet die kerk help

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die versugting na grond is deel van die mensdom se geskiede­nis. Dit is ongelukkig ’n verhaal van geweld en oorlog. Suid-Afrika is hier­op geen uitsondering nie. Die soeke na meer grond is een van die vernaamste redes wat die verversingspos wat Jan van Riebeeck in 1652 gevestig het na ’n kolonie laat groei het. Dit is die soeke na meer grond wat die trekboere na die binneland laat migreer het. Grond was die rede vir die sogenaamde Grensoorloë wat vanaf 1779 in die Oos-Kaap gewoed het, vir die Groot Trek na die binneland vanaf 1835, vir die moord op Piet Retief en die Slag van Bloedriver in 1838. Die behoefte aan grond het gelei tot die Natives Land Act van 1913. Die versugting na grond is vandag een van die vernaamste redes vir plaasbesettings en plaasmoorde.

Dit is daarom nie vreemd dat grond en grondonteiening sonder vergoeding voor en tydens die afgelope verkiesing ’n groot deel van die narratief was nie. Dit het ’n debat geword wat emosies hoog laat loop. Opmerkings deur ’n ge­siene boer wat deel van die president se Taakspan oor Grondhervorming was wat sê dat die taakspan soos ’n spazawinkel bedryf is, het nie veel gedoen om gemoedere te kalmeer nie. Hiermee sal die kerk en spesifiek die NG Kerk moet help. Die kerk sal moet help keer dat Suid-Afrika in ’n tweede Zimbabwe ont­aard.

Die Algemene Sinode het reeds in 2013 duidelik aangedui wat die kerk se taak in dié verband is. Die sinode het onder meer erken dat “die grondkwessie en restitusie, behoud en verkryging van eiendomsreg, werksgeleenthede en lone, voedselsekerheid en veiligheid in die brandpunt staan”. Belangriker is die feit dat die sinode dit duidelik gestel het dat ’n groot deel van die landbougemeenskap lidmate van die NG Kerk is, dat die kerk ’n profetiese verantwoordelikheid teenoor die owerheid het, maar dat die kerk ook ’n pastorale verantwoordelikheid teenoor sy eie lidmate het. Die sinode het verder gesê dat die kerk aan God se kant wil staan as dit kom by die waarheid, geregtigheid, billikheid en menswaardigheid.

Die felheid waarmee die debat oor grond tans gevoer word en die emosie wat daarmee saam loop bied ’n enorme uitdaging aan die NG Kerk. Dit daag die kerk uit tot kritiese solidariteit. Lidmate sal in gemeentes geestelik en emosioneel ondersteun moet word terwyl die NG Kerk in sy groter verband sy profetiese stem duidelik sal moet laat hoor. Dit is ongetwyfeld een van die grootste uitda­gings van ons dag. Dit is ’n uitda­ging waarvoor die kerk nie mag terugdeins nie.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top