Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Verhelder en fokus

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Wanneer ons begin om Jesus na die wêreld te volg, begin jou oë oopgaan vir die nood om ons. As jy deur Jesus se oë begin kyk, sien jy mense op ’n ander manier. Jy sien die swaarkry van mense in ’n plakkers­kamp, die veeleisende lewe van enkelma’s, die gebrek aan ’n toekoms vir kleuters wat nie goeie kleuterskole het nie. In Suider-Afrika hoef ons nie te gaan soek vir werk vir die kerk nie, daar is eer­der te veel.

’n Gevaar vir gestuurde gemeentes is om te dink dat ons alles vir almal moet wees en elke behoefte in die gemeenskap moet aanspreek. Dit lei tot frustrasie, ’n vat-en-los benadering en soms tot verlamming in die aangesig van die oorweldigende nood. Gemeentes wat op die lang duur die grootste impak maak, daarenteen, weet om te fokus en af te baken.

Tom Rainer, in sy boek Breakout Churches, toon aan dat gemeentes wat effektief uitreik, daarin slaag om drie elemente gelyk in ag te neem: die leiers se verstaan van God se roeping vir die gemeente, die gawes en passie van die gemeentelede en die nood van die gemeenskap.

Waar hierdie drie sirkels oorvleuel, is die gemeente op sy effektiefste en kom die meeste energie los. ’n Mens sou dit die “sweet spot” van die gemeente se bedie­ning kon noem.

Vir gemeentes wat al ’n ent gevorder het met hulle eie roeping as gestuurdes, is dit noodsaaklik om hierdie werk te doen: verhelder en fokus. Om te kan fokus moet ons eers verhelder: Ons moet duidelikheid hê oor ons roeping, oor wie die gemeente is en van die nood van die gemeenskap. Dit vra vir ’n klom­pie intensionele werk.

Die leierskap van die gemeente moet onderskei en ’n helder prentjie kry van waarvoor God ons roep.
Dan moet ’n mens met die gemeente konsulteer: Wat is julle gawes? Wat maak julle opgewonde? Wat is julle begeerte vir die gemeente se toekoms?

En ook die werk om die gemeenskap te leer ken: Wat gaan hier by ons aan? Watter mense woon hier? Wat is die behoeftes waarin die kerk ’n verskil kan maak?

Hierdie oefening gee vir ’n mens ’n prent van die gemeente se rol in God se koninkryk en in die gemeenskap. Hierdie prentjie word met tyd ook al helderder en die gemeente weet al duideliker: “Dit is wie ons is en dit is waaroor God ons gebruik.” En dit is meer werd as enige visiestelling wat netjies geformuleer op papier of op ’n muur geskryf staan.

▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top