Aandkerk is buite die kwessie. “Dis net te gevaarlik”.
So vertel ’n pastoor wat al twee dekades in Manenberg op die Kaapse Vlakte werk. “Dit raak toenemend gevaarliker om ’n verskil as kerk te maak,” vertel past Andrew May van die Green Pastures Church op hierdie berugte deel van die Kaapse Vlakte. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is onlangs hier ontplooi in ’n poging om te midde van bendegeweld vrede te herstel.
Oor kerkwees onder dié omstandighede sê dr Llewelyn MacMaster uit Belhar dit is moontlik, maar “uiters moeilik en uitdagend”. “Ek dink sommer hier aan Jesus se woorde aan die dissipels toe hulle op hulle sending gestuur word: ‘Onthou, Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees daarom versigtig soos slange en opreg soos duiwe’,” sê die moderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Kaapland.
Roegshanda Pascoe, ’n aktivis en voorsitter van Manenberg se Veiligheidsforum, vertel van die drukgroep genaamd “Taking back our streets” wat Donderdagaande in die strate vir verandering bid. Daar is selfs ’n drukgroep gewy aan moeders wat kinders aan bendegeweld moes afstaan.
MacMaster sê die situasie vra wysheid, insig en onderskeidingsvermoë. “Dit beteken uiteraard aanpassings in ons programme en dienste, maar beslis nie algehele onttrekking van die samelewing en terugtrekking in ons dop nie. Hierdie gemeenskappe het ons as kerk en geloofsgemeenskappe nou, meer as ooit, nodig om lig en sout te wees, om daadwerklik gestalte te gee aan die boodskap van hoop deur ’n profetiese woord en priesterlike meelewing en ’n ‘ministry of presence’.”
MacMaster sê daar is ’n sterk verband tussen die bestaan van bendes en sosio-ekonomies benadeelde gemeenskappe wêreldwyd. “Armoede, hoë vlakke van werkloosheid, ’n swak skoolstelsel, ’n gebrek aan behoorlike of ordentlike behuising, oorbevolking, swak of nie-bestaande ontspanningsgeriewe is tipiese teelaarde vir bendebedrywighede. Hierdie sistemiese en strukturele oorsake kombineer met persoonlike uitdagings op ’n psigososiale vlak en dra by dat bendebedrywighede, misdaad en geweld maklik wortelskiet,” verduidelik hy.
Selfs in ’n provinsie wat steier onder die skokkende moordsyfer van 20 336 per jaar, volgens die jongste SAPD-statistiek, het Manenberg in die Wes-Kaap die reputasie as plek van vrees, vertel inwoners.
Voorheen was die geweld beperk. “Nou is die geweld oral,” vertel Pascoe vanuit ’n huis van veiligheid nadat daar vroeër vanjaar op haar huis geskiet is.
