Om “jammer” te sê is nie ’n skande nie!

Die Algemene Sinode van 1994 was om verskeie redes een van die belangrikste vergaderings in die geskiedenis van die NGK. Die sinode, waarvan ds Freek Swanepoel tot moderator verkies is, het nie sonder rede in die media die benaming “Sino­de van versoening” gekry nie.

Twee belangrike gebeurtenisse ty­dens die vergadering het daartoe aanleiding gegee: Eerstens het mnr Nelson Mandela die vergadering op 13 Oktober 1994 besoek en toegespreek. Tweedens het die vergadering ’n besluit geneem waarin verskoning gevra is vir die onreg wat aan profete uit eie geledere gedoen is. Die besluit het soos volg gelui: “In die lig van die klag van politieke dienstigheid deur die NG Kerk, wys die Algemene Sinode lidmate daarop dat daar deur die jare heen steeds lidmate, ampsdraers (en selfs kerklike vergaderings) was wat krities was oor apartheid en kerklike besluite in hierdie verband. Die Algemene Sinode erken met spyt dat daar in die verlede dikwels van kerklike kant op ’n onbarmhartige en onsaaklike wyse teenoor sulke persone gehandel is” (Handelinge van die Algemene Si­no­de 1994:374).

Nadat hierdie besluit geneem is het prof BJ (Ben) Marais en dr CF (Beyers) Naude, twee van die “profete uit die verlede”, die vergadering op verskillende dae besoek. Marais was uitgesproke oor die feit dat apartheid nie Bybels gefundeer kon word nie terwyl Naude die bekendste anti-apartheidsaktivis uit NG geledere was. Albei is hartlik ont­vang en die besluit is aan hulle voor­gelees.

Natuurlik was daar ook kritiek. Die moderatuur is reeds tydens die vergadering deur ’n aantal beswaardes met optrede gedreig indien hulle nie bereid was om die besware aan te hoor nie. Kort nadat die vergadering verdaag het, moes hulle bontstaan toe hulle deur ongeveer 30 beswaarde afgevaardigdes gekonfronteer is oor die gebeure tydens die vergadering.

Daar was veral ontevredenheid oor die besoek van dr Naude. Wanneer daar teruggeblaai word deur die ge­skiedenis van die Algemene Sinode, is dit egter duidelik dat hierdie laaste vals noot nie die simfonie van 1994 bederf het nie.

Dr Frits Gaum, destydse redakteur van Kerkbode het in die uitgawe van ­28 Oktober 1994 na afloop van die vergadering tereg geskryf: “Die negende Algemene Sinode van die NG Kerk wat verlede week in Pretoria ten einde geloop het, is gekenmerk deur ’n gees van versoening en was ongetwyfeld een van die merkwaardigste sinodesittings sedert die eerste vergadering van die Algemene Sinode in 1962 gehou is.”

Gaan die Algemene Sinode van 2019 in die toekoms ook so beskryf word? Miskien – want om “jammer” te sê is nie ’n skande nie.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.